ToekomsVenster: Kind van God

grassade-voor-water

(Foto: Aleesha Schmidt/Unsplash)

Iemand wat ‘n kind van God is, doen nie meer sonde nie, omdat die Gees van God in hom bly; en hy kan nie meer sondig nie, omdat hy uit God gebore is. – 1 Johannes 3:9

Die teks is baie uitdagend om die minste te sê. Die wyse waarop kind van God wees en ʼn lewe in sonde met mekaar gekontrasteer word, laat ʼn mens amper met ʼn gevoel van onrustigheid, juis omdat jy jou eie lewe alte goed ken.

Dit is amper asof die teks wil sê: jy moet besluit waar jy jou kruisie trek. As ʼn mens egter kindskap van God ernstig opneem, as jy die genade wat Hy aan jou bewys het na waarde skat, as jy net ʼn effense begrip het vir die groot prys wat Jesus vir en namens ons betaal het, kan jy nie onverskillig en onverantwoordelik in sonde voortleef nie.

Sonde is rebellie teen God se gesag en aanspraak op jou lewe. Dit is om te sê: “ek weet beter en sal self besluit, ek laat my die voorskryf nie”.

Nou wie wil in elk geval so lewe en dan wees, die samelewing is vol van mense wat oënskynlik juis so besluit het, hoe onverstaanbaar ook al.

Toegegee, Galasiërs 5 leer ons dat ons in ʼn voortdurende stryd gewikkel is.

Die Gees en die vlees, die ou en die nuwe mens, kindskap van God en die aantrekkingskrag van die wêreld en die heersende kultuur.

Ek hou van die woorde, “hoe langer, hoe meer”. Jy het dit seker ook al gehoor. Dit is juis wat heiligmaking is.

Dit is ʼn “hoe langer, hoe meer” soos Jesus.

Dit is ʼn “hoe langer, hoe meer” klaarmaak met die verkeerde en toelaat dat die Gees beheer van jou lewe neem.

Ja, as jy en ek ernstig is oor ons verhouding met die Here gaan ons nie bewustelik en moedswillig voort met ʼn lewe van onverskilligheid nie.

Aan die ander kant besef en bely ons ons afhanklikheid van die Here, streef ons daarna dat die karakter van Jesus toenemend in en deur ons lewens te vertoon, en besluit ons elke dag, weer en weer, om die primaat en gesag van die Heilige Gees in ons lewens te erken en toe te laat.

Die Nuwe Lewende Vertaling help ons dus in ons verstaan van die teks:

Elkeen wat deur God verwek is, hou nie aan sonde doen nie omdat God se saad in hulle bly. Hulle kan ook nie aanhou sonde doen nie omdat hulle deur God verwek is. – 1 Johannes 3:9 (NLV)

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Yvonne

Dankie Here dat U die Heilige Gees gestuur het om my te leer en lei…Amen