ToekomsVenster: Kinders van een Vader


dra-n-kruis

Argieffoto.

En dít is sy gebod: Ons moet in sy Seun, Jesus Christus, glo en ons moet mekaar liefhê ooreenkomstig die gebod wat Hy ons gegee het. Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is ‘n kind van God; en elkeen wat vir die Vader liefhet, het ook die ander lief wat kinders van die Vader is. – 1 Joh 3:23; 5:1

Ons het die vorige dae gesien dat die gemeente wat die Here deur sy Gees en Woord bymekaar maak, Jesus Christus hoeksteen het. Ons staan aan sy kant. Ons verdedig die evangelie waardeur ons sy mense geword het. Ons water dit nie af nie. Ons bly getrou. Vir baie mense is dit logies. Ons is ’n kerk! Ons is ’n Christelike organisasie! Dit behoort so te wees!

Ongelukkig is dit nie so eenvoudig nie. Ek noem twee kinkels in die kabel. Eerstens gee baie Christene duidelik nie om wat van die kerk word nie. Die kerk moet hulle behoeftes dien. Of die waarheid verkondig word, maak vir hulle nie saak nie. Of hulle gemeente ’n draer en beskermer van die waarheid is, is van gee belang nie. Of die gemeente van openlik ’n getuie van Jesus Christus is, skeel hulle nie. Solank die kerk hulle kan dien.

Tweedens is is daar Christene vir wie geloof in Jesus Christus sekondêr is. Al het die Seun van God die kerk deur sy bloed gekoop, glo baie mense dat die bloed in hulle are belangriker as die bloed van Christus is. Die belangrikste is dat ek saam met mense van my eie kultuur, taal en kleur kan aanbid.

Johannes skryf dat die Here aan ons ’n gebod gegee het (1 Joh 3:23). Dis nie twee gebooie nie. Wat ek glo en wat ek doen kan nie geskei word nie. Ons glo in Jesus Christus – dat Hy waarlik mens en waarlik God is. Ons doen dit omdat ons uit God gebore is. Dit beteken dat die geloof in Hom sy genade is. Ons glo nie vanself nie. Dit is die werk van God.

Om uit God gebore te wees, beteken ook dat ons sy kinders is. As ons sy kinders is, is Hy ons Vader (1 Joh 3:1). As alle gelowiges een Vader deur Jesus Christus het, is ons broers en susters van mekaar. Nie die bloed in ons are nie, maar die bloed van Christus bind ons aan mekaar. Dis hoekom ons ’n gemeenskap van liefde is. Broers en susters help mekaar en versorg mekaar (1 Joh 3:16-18).

Ons is een familie wat hande vat en rondom die kruis staan. Dis die kerk. Niks anders is die kerk nie.

Waar weeg die swaarste vir jou: jou kultuur, taal, velkleur of die familie van gelowiges wat deur die bloed van Jesus Christus gekoop is?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Joh. 3:16 ·

Dankie vir die laaste paar dae se stukkies. Dis nie so oppervlakkig nie. Meer Christosentries as mens gesentreerd.

Doons ·

Baie dankie vir die stukkies waarheid,dit was letterlik soos ligstrepies in n donker woud.Dit wat aangespreek is,dat Jesus Christus God is,is deesdae n steen des aanstoots vir menige mense en dit voel asof dit hierdie dwaaling weer die nuwe strydpunt gaan word.Baie dankie dat Christus so wonderlik uitgebeeld word in hierdie dagstukkies.

AM ·

Baie dankie vir vandag se boodskap. Dit is soos “Doons” gese het….die waarheid was soos ligstrepies in n donker woud…..baie goed gestel, dankie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.