ToekomsVenster: Kom bid saam

Argieffoto (Foto: Priscilla du Preez/Unsplash)

“Volhard in die gebed! Wees daarby waaksaam en dankbaar.” – Kolossense 4:2 (AFR83)

Dit is eers wanneer ʼn mens iets of iemand verloor wat jy die waarde en betekenis daarvan kan waardeer.

Gesondheid is so ʼn vername gawe. God het ons wonderlik gemaak. Fisiologies, gevoelmatig en intellektueel is ons kompleks en uitnemend geskep. Elkeen van ons ʼn industrie, ʼn fabriek op sy eie. Soos ʼn kragsentrale, is dit steenkool in en energie uit.

Ons is afhanklik van verskeie soorte insette ten einde optimaal te kan funksioneer. Tog haal ons asem, ons harte klop, ons biologiese funksies werk, ons beleef, dink en neem besluite. Ons kom en gaan, maak en breek selfs. Ons presteer, leer, bemeester en styg uit. Ons sien, hoor, dink, doen, voel, lag, huil, soveel aspekte wat eie is aan menswees. Dit alles kan ons doen. Onverstaanbaar wonderlik.

Wanneer laas is jy aangegryp deur die grootsheid van dit alles?

Wanneer laas het jy in ʼn danklied uitgebreek, sonder ophou gebid en prewel: “Dankie Here, dankie Here, so baie, baie, baie, dankie. Ek is bevoorreg”?

Dalk redeneer jy dat hierdie mooi dinge wat ek beskryf het geen verskil maak vandag nie.

Jy staan by ʼn oop graf en sou eerder plekke wou ruil, maar sou jy regtig wou? Jy sit by die spreekkamer en weet dat dit nie goeie nuus gaan wees nie, jy meld aan vir die soveelste chemo-behandeling, jy wil nie opstaan soggens nie omdat ʼn donker wolk oor jou hang en jy nie meer kans sien vir die lewe nie. Jy moes die soveelste keer hoor dat jy oor of onder gekwalifiseerd is, dat jou kinders nie kan terugkom nadat hulle van jou weggeneem is nie.

Dit is pynlik om mens te wees, redeneer jy en wil met alles wat jy het vlug, ontvlug, wegvlug, vir altyd, net vergeet.

Ek is jammer dat ek nie vandag ʼn towerformule oor jou kan uitspreek nie.

Al wat ek het om aan te bied is die God van hemel en aarde wat gesê het: Ek sal jou nooit begewe en nooit verlaat nie.

Die God wat gesê het, as jy deur vuur moet gaan sal die vlamme jou nie brand nie, en as jy deur water moet gaan, sal dit jou nie oorweldig nie.

Ek kan nie instaan vir die geloofwaardigheid van sy Woord nie, maar weet as jy bereid is om Hom op sy Woord te neem, Hy jou nie sal teleurstel nie.

Dalk nie vandag nie, dalk nie môre nie, maar op sy tyd.

Die Een wat gesê het, roep my aan in die dag van benoudheid en Ek sal jou red, is naby.

Wat ek kán doen is om vandag te bid vir elkeen wat tot die dood toe moedeloos en beproef is.

Liewe Here, hoor, sien en raak my boetie en sussie aan in Jesus Naam. Amen

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Here ek weet die krag van gebed is groot…ek bid vir elkeen wat ihulle in moeilike omstandighede bevind…Here ek ken mos nie almal se name nie maar U weet van elke smagtende hart….dankie Here U tyd is altyd perfek..Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.