ToekomsVenster: Kom kry ’n nuwe hart

Argieffoto (Foto: Aung Soe Min/Unsplash)

“Luister hier! ‘n Saaier het eendag gaan saai. Met die saai het ‘n deel van die saad op die pad geval, en die voëls het gekom en dit opgepik. ‘n Ander deel daarvan het op ‘n klipbank geval, waar daar nie baie grond was nie. Dit het gou opgekom, omdat die grond nie diep was nie. Maar toe die son warm word, is dit verskroei, en omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog. ‘n Ander deel het tussen die onkruid geval. Die onkruid het opgekom en dit laat verstik, en dit het nie saad geskiet nie. Die ander saad het in goeie grond geval, en dit het opgekom, gegroei en ‘n oes gelewer. Party het dertigvoudig gedra, ander sestig- en nog ander honderdvoudig.” – Mark. 4:3-8

Die verhaal van die saaier het as onderbou van hierdie week se oordenking gedien. Die saaier saai met die beste bedoelings denkbaar. Die saad is edel, bewese en effektief. Al wat die saad vra is ontvanklike grond. Die proses van groei lê in die DNS van die saad. As die saad ʼn vrugbare en dankbare omgewing vind om in te ontkiem, gebeur dit volledig. Dit is die saad wat die werk doen. Al wat die grond hoef te doen is om ʼn gunstige omgewing te verskaf waarin die saad kan ontkiem, groei en uiteindelik vrug dra.

Die Saad is inderdaad die Goeie Nuus van die Evangelie. Die saad het ʼn bewese baanrekord. Dit getuig van miljoene oorwinnings in mense se lewens. Die saad sal nooit teleurstel nie. Die saad is van Goddelike oorsprong.

Wat het gebeur dat die grond so verword het?

Wat het in jou en my lewe gebeur wat ʼn ondeurdringbare kors rondom ons hart te vorm? Niemand kan naby jou kom nie. Elke toenadering word as vyandskap beleef. Jou vertroue in ander mense, selfs in God, lê aan skerwe. Die liefdesboodskap van die Evangelie dring nie deur nie.

In die oppervlakkige grond lyk dit aanvanklik of iets gaan gebeur maar jy is in jou wese toegesluit en opgesluit in jouself. Jy oorweeg ander se goeie bedoelings en verwerp dit dan sondermeer. Die pad na jou hart is versper.

Dan is daar ook die goeie grond. Loof die Here daarvoor. Die grond wat goed is, is grond wat die genesing van die Heilige Gees in hul lewens toegelaat het. Alle grond is weens die sondeval verrinneweer. God kan dit rehabiliteer.

Die Here het besondere gawes gegee, mense wat professioneel opgelei is en die gawe van begeleiding ontvang het. Gesels spoedig met iemand. Jy kan jouself beswaarlik help, jou perspektiewe is benewel, dit is al te lank dat jy sukkel. Wonderwerke gebeur steeds, jou lewe kan herstel word, en jou hart kan vervang word met een waarop God geskryf het.

“Kom nou,” sê die Here, “dit sal word soos wol en sneeu”.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.