ToekomsVenster: Kom lewend in die ewigheid aan

(Foto: Pixabay/Pexels)

“Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag.” – Deuteronomium 30:19 (AFR53)

My ander helfte vertel my van ʼn skets wat sy iewers gesien het wat enersyds humoristies mag wees, maar aan die anderkant profeties, evangelies en ernstig.

Sommige van ons sal in die volgende dae met vakansie vertrek en wat ʼn heerlike vooruitsig. Mag elke oomblik genotvol wees en mag jy heerlik uitrus.

Jaarliks word groot moeite gedoen om motoriste, veral, bewus te maak van die groot verantwoordelikheid om ʼn motor te bestuur.

Dit is hartseer dat soveel mense gedurende vakansietye hul lewens verloor. Alte dikwels word noodlottige en ander ongelukke aan onverantwoordelike optrede, waaronder die misbruik van alkohol, toegeskryf. Dit is inderdaad nie net die lewe van die persoon wat hom daaraan skuldig gemaak het wat bedreig word nie, maar ook die van onskuldige reisigers in die ander motor.

Die padowerhede maan motoriste gedurig, ook in die afgelope dae, om veilig te bestuur en lewend by hul bestemmings aan te kom.

So gebeur dit dat ʼn lykswa eweneens ʼn Arrive Alive-plakker agter op sy venster aangebring het. In die lig van die dooie wat vervoer word en die oproep om lewendig aan te kom, is dit nie moeilik om die ietwat galgehumor raak te sien nie.

Dan weer is die oproep om lewend aan te kom by jou bestemming, profeties.

Feit van die saak is dat almal een of ander tyd sterf, hoe ontstellend dit ook al mag wees. Die plakker is dan van besondere betekenis.

Jesus, die Christuskind van Kersfees, het ʼn pad van vernedering en uiteindelik die dood geloop sodat ons “lewend, veilig, behoue en bloed-gewas” aan die “anderkant” sal aankom.

ʼn Mens kan dit nie met enige dag waag sonder hierdie versekering nie.

 “Ek weet verseker dat Jesus leef

Hy het my sonde uit liefde vergeef

Ek was verlore maar deur sy bloed

Is daar nou vrede in my gemoed!”

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.