ToekomsVenster: Kom ons gesels oor barmhartigheid

(Foto: Timothy Barlin/Unsplash)

Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. – Efesiërs 2:4

’n Mens gebruik woorde maar verstaan nie altyd die betekenis daarvan nie. Ek blaai in die HAT-woordeboek rond en vind die volgende verduideliking van die begrip, barmhartigheid:

Barmhartigheid – medelydend, met meegevoel; sag; iemand barmhartig behandel.

Somtyds hoor ’n mens ’n woord ook anders as jy dit in ’n ander taal beluister. In Engels beteken dié woord: merciful; forgiving; lenient; gracious; clement; charitable; compassionate; piteous.

Ja, die moontlikhede van die betekenis van die begrip barmhartigheid is so ryk dat ’n mens ’n boek daaroor kan skrywe.

Die Bybel se vertrekpunt wanneer oor barmhartigheid gepraat word, is God se warm en liefdevolle hart vir sondaar mense.

Ons kan die teks nie lees sonder om te vra waarna die woordjie “maar” verwys nie. Die vorige vers eindig soos volg: Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word. Dit gee aan ons teksvers ryke betekenis.

Ons verdien inderdaad om vervreem van God te lewe. Immers, dit is die keuse wat die sondige mens maak. Sonde is soos ons al dikwels gesê het rebellie teen God en ’n eiegeregtigheid wat ten hemele skreeu.

“Ek sal self, ek het U nie nodig nie en ek is in staat” is deel daarvan. Net totdat die eerste wesentlike uitdaging kom en ’n mens soos ’n vasgekeerde voëltjie om hulp roep.

Dit is opmerklik dat die naam van die Here so dikwels in krisistye aangeroep word. Selfs ongelowige mense roep dan ook na God.

Ons is almal bekend met die irriterende gebruik van “O, my God”, veral in TV-programme. Dikwels word dit sommer as ’n uitdrukking van oppervlakkige verbasing of iets dergeliks gebruik. Programme wat nuwe en herstelde huise voorstel, trourokke aanpas en ander realiteitsprogramme veral, is so lief daarvoor om die naam van die Here so in te span.

Dit is wat my betref onreëlmatig en ’n verbreking van die gebod wat sê dat ’n mens die naam van die Here nie mag misbruik nie.

Dan weer is daar tonele van gevaar, onsekerheid en trauma waarin die Here se naam aangeroep word. Ek is nie daarvan oortuig dat alle akteurs ’n verhouding met die Here het nie, maar as die onsekerheid dreig word kortpad gevat hemel toe.

Inderdaad, sonder God kan ons niks doen nie. Hy is egter nie ’n noodwiel wat net in krisistye naderby geroep word nie. Hy is inderdaad die God wat ons ten spyte van ons sonde en ongeregtigheid innig lief het.

Dit is barmhartig in die volle sin van die woord.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frank ·

So waar, Jannie, so waar!!!
Betreffende jou omG wat so dikwels gebruik word, is die verweer dikwels “maar dis net omg” of “dis net ‘n gesegde/spreekterm”!!! …of, “want almal gebruik dit”….. SO ver van die waarheid af!!!
Dankie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.