ToekomsVenster: Kom ons gesels oor bekering

(Foto: Elke van Wyk.)

Die Openbaring 3:20 – Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My.

Die Openbaring 19: 9 – Toe sê die engel vir my: “Skryf op: Geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam uitgenooi is.” Verder sê hy vir my: “Dit is die woorde van God, en hulle is waar.”

Die bekende woorde staan binne konteks van een van die briewe wat aan die sewe gemeentes in Openbaring gerig is. In hierdie geval is dit Laodicea, ʼn gemeente van wie Jesus sê dat hulle nog koud nog warm is maar lou.

Die Openbaring 3:14-15 – Skrywe aan die leraar van die gemeente in Laodisea: So sê die Amen, die geloofwaardige en ware getuie, Hy deur wie God alles geskep het: Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle nie koud is nie, en ook nie warm nie. As julle tog maar koud of warm was!

Die bestaan van warm bronne in die omgewing wat heerlike warm water vrygestel het is bekend. Van daar het die water sy pad gevind na die gebied van Laodisea. Teen daardie tyd was dit onverkwiklik lou.

Die gemeente is ook heerlik onbewus van sy status voor God. Hulle is baie tevrede met hulself en kan hulself by God aanbeveel. Ons is skatryk, sê hulle, ons het niks nodig nie. Die Here oordeel anders oor hierdie gemeente. Klatergoud is sy bevinding, heeltemal blind om te onderskei, arm, blind en kaal. Die oogsalf wat daar vervaardig is, die klere fabrieke wat gedy het en die rykdom van die stad ten spyt is hulle ver verwyder van God se standaard.

Bekering is voorwaarde en steeds moontlik maar die gemeente moet wakker word anders word hul lampstaander verwyder.

Bekering is ʼn brose toenadering tot God in die wete dat jy gesondig het en nie aan God se bedoeling met jou lewe beantwoord nie. Dit is egter nie ʼn selfkastyding met slae wat jouself toegedien word soos in die Middeleeue waar monnike hulself met swepe op die rug bly slaan het as teken van berou en inkeer nie. Bekering is ʼn dankbare toekeer, ʼn ervaring in vryheid, uiteraard gepaard met berou maar nie sonder verligting nie.

Moenie dat die bose van bekering selfprestasie en eie roem maak nie. Bekering is ʼn regmerkie agter jou naam nie veel eerder ʼn kruisie, ʼn liefdesbewys, ʼn “Ek gee vir jou om” uit die mond van ʼn genadige Vader en barmhartige Here Jesus, geaktualiseer dier die Heilige Gees.

“Kom nou,” sê die Here, “al was jou sonde soos skarlaken dit sal wit word soos wol, rooi soos purper dit sal wit word soos sneeu”.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

OW ·

Bekering kan in twee verskillende betekenisse gebruik word:as ‘n eerste bekering,wat beteken dat ‘n mens vir God kies en op Hom begin vertrou,en as voortgaande bekering,wat baie nou verwant is aan heiligmaking.Die eerste geval is ‘n soort bekering wat veral voorkom in situasies waar mense ‘n ander godsdiens het en dan die evangelie hoor en hulle tot God bekeer.Die tweede geval kom veral in die Ou Testament voor wanneer die profete die ongehoorsame volk van God oproep om hulle van hulle sonde te bekeer en die Here te gehoorsaam.Hulle moet hulle van bepaalde sondes bekeer,omdat hulle die volk van God is.

Henk ·

Daar is net een bekering en dit is om uit jou verpore toestand te kom , maak nie saak watter geloof jy was nie . Jy is net so verlore al kom jy uit n christelike huis . Jy MOET tot bekering kom al is jou ouers gered . Die Here het nie kleinkinders nie , net kinders .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.