ToekomsVenster: Kom ons gesels oor die gelykenis van die saaier

saad-saaier-rys

(Foto: Pixabay/Pexels)

“Luister hier! ‘n Saaier het eendag gaan saai. Met die saai het ‘n deel van die saad op die pad geval, en die voëls het gekom en dit opgepik. ‘n Ander deel daarvan het op ‘n klipbank geval, waar daar nie baie grond was nie. Dit het gou opgekom, omdat die grond nie diep was nie. Maar toe die son warm word, is dit verskroei, en omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog. ‘n Ander deel het tussen die onkruid geval. Die onkruid het opgekom en dit laat verstik, en dit het nie saad geskiet nie. Die ander saad het in goeie grond geval, en dit het opgekom, gegroei en ‘n oes gelewer. Party het dertigvoudig gedra, ander sestig- en nog ander honderdvoudig.” – Mark. 4:3-8

Die gelykenis van die saaier is bekend. Dit is ʼn aangrypende en realistiese weergawe van wat word met die saad wat so ruimhartig gesaai word. Daar is ʼn paar inleidende opmerkings wat ek wil maak.

Daar is drie partye by die saak betrokke, die saaier, die saad en die grond. Toegegee, daar is sprake van die duiwel, onkruid, die son en ander sake. Wanneer die saad in hierdie gedeelte egter gesaai word, word dit ewekansig gesaai sonder dat die saaier ʼn onderskeid tref van waar die saad land en die prognose wat daarmee mag verband hou. Hy saai doodgewoon sonder om te diskrimineer.

Uiteraard gaan dit oor wat met die Evangelie gebeur wanneer dit gepredik word en die waarheid dat ʼn  beskeie persentasie van die mense wat die Woord hoor tot wasdom, volwassenheid kom en beantwoord aan hul skeppings doel naamlik om die Koninkryk van God te laat kom, beantwoord.

Terug by die saaier, die saad en die grond.

Jy sal met my saamstem dat daar nie skort met die saaier nie. Hy saai oorvloedig, hy saai met verwagting, hy saai sonder om vooraf te besluit dat die opbrengs nie mag wees wat hy gehoop het dit sal wees nie. Hy saai doodgewoon. Hy is ʼn  goeie saaier vir wie ons agting en respek het. As ons dan die vraag vra waarom van die saad verlore gaan sodat daar nie vrug is nie kan ons dit nie voor die deur van die saaier lê nie. Sy integriteit staan vas.

Kom ons oorweeg die saad. Die inligting wat ons beskikbaar het gee geen aanduiding dat dit skort met die gehalte van die saad nie. Goeie, edele en bewese saad wat deur ʼn goeie saaier gesaai word. Tog stel die oes teleur. Die verwagting sou tog wees dat die saad oral waar dit gesaai is en word ʼn  optimale oes lewer. Interessant dat daar sprake is van dertig, sestig en honderdvoudig. Nie alle saad het dieselfde opbrengs gelewer nie maar die saak dat die opbrengs verskil word nie in behandeling geneem nie. Die saad en die gehalte daarvan is nie ter sprake nie, maar ʼn onbevredigende opbrengs is wel, want net een van die vier akkers waarin gesaai word lewer hoegenaamd ʼn oes.

Waar lê die probleem? Duidelik tog met die terrein waar die saad beland het. Dié terrein is nie in staat om die saad se potensiaal te ontsluit en tot sy reg te laat kom nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.