ToekomsVenster: Kom ons gesels oor die Hemelvaart

hemelvaart

Foto: Paul Gilmore/Unsplash.com

Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën. Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem. Hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe teruggegaan. Daar het hulle die hele tyd by die tempel gebly en God geprys. – Lukas 24:50-53

Ons het vroeër in Mei die Hemelvaart gevier. Dit word allerweë gesê dat Hemelvaart by die meeste gelowiges verbygaan. Ons is tradisioneel baie opgewonde oor Kersfees, die Inkarnasie, Jesus se koms na die aarde. Ons deel in die trauma, passie en seer van die gekruisigde Jesus tydens Paasfees en juig oor die leë graf op opstandings Sondag. Ons neem met dankbaarheid kennis van die uitstorting van die Heilige Gees en die belofte van sy wederkoms.

Soos wat ons die versoeningswerk van Jesus nie kan indink sonder een van die momente wat ek genoem het nie vorm Hemelvaart ’n integrale deel daarvan. Sonder die Hemelvaart is die werk nie volledig nie, is ons fokus verkeerd en word ons van ’n gawe dosis moed en vreugde ontneem. Gedurende hierdie week gaan ons na ’n paar aspekte van die Hemelvaart kyk. Ek vertrou dat dit vir jou tot seën sal wees.

Ons lees die verhaal, kort en bondig in die laaste verse van Lukas. Wanneer Lukas sy skryfwerk in Handelinge voortsit sluit hy weer daarby aan. Die gebeure in Johannes 14 tot 16 help ons om meer te verstaan van wat integraal deel vorm van hierdie vertrek verhaal van Jesus.

Handelinge vertel ons dat Jesus gedurende die tyd na sy opstanding, vir ’n periode van veertig dae aan verskeie groepe mense verskyn het. Dit is opmerklik dat Jesus nie onmiddellik na sy opstanding hemelwaarts keer nie. Na alles, Hy het gedoen wat Hy onderneem het om te doen en sou seker haastig wees om met sy Vader in die hemel herenig te word.

Desnieteenstaande vertoon Hy Homself as die lewende Here. Hy praat met sy volgelinge oor die dinge van die Koninkryk en gee opdragte wat daarmee verband hou, opdragte wat uitgevoer moet word. Hy bemoedig die wat agterbly en gee perspektief op en vir die tyd wat voorlê. Hy herinner hulle aan die belofte van die Vader wat tien dae later uitgestort sou word. Sy dissipels word gemaan om nie van Jerusalem af te vertrek voordat hulle nie ’n ontmoeting met die Heilige Gees gehad het nie.

’n Strategies belangrike tyd. Sou Jesus onmiddellik na sy kruisiging en opstanding na die hemel vertrek het, sou dit ’n enorme vakuum veroorsaak het. Hy maak sy dissipels gestadig gereed om “sonder sy fisiese teenwoordigheid” te fokus op die taak voorhande. Ook daarin betoon Hy soos altyd sy onvergelykbare en kosbare genade.

Is jy ook besig met die opdragte wat met die Koninkryk verband hou?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here dat U die Heilge Gees gestuur het om by ons te wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.