Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. – Hebreërs 13:5
Geld wat stom is maak reguit wat krom is, dit beteken, met geld kan ʼn mens baie verrig.
Wie ken nie Lukas Mare se bekende lied, “Ek sou kan doen met ʼn miljoen” nie? Wat sou jy met ʼn miljoen doen? Toegegee, met alles wat so duur geword het kom ʼn mens nie ver met ʼn miljoen nie maar dit sal darem ʼn gawe wegspringplek beteken.
Wanneer ʼn mens oor geld praat is ʼn gawe dosis realisme gepas. Sonder geld kan ʼn mens nie in hierdie wêreld oorleef nie, dit is ʼn noodsaaklike kommoditeit. Dit koop die middele wat jy en ek nodig het om te leef. Dit sorg dat ons ʼn dak oor ons koppe het, water in die krane en lig by die skakelaar.
Met geld as sodanig is daar nie fout te vind nie. Baie van Jesus se gedagtes het inderdaad met geld te doen.
Geld is egter ʼn middel tot ʼn doel en nie die doel nie. As geld die doel is, sal dit jou lewe beheers. Dit maak jou blind tot die mate dat al wat saak maak is om soveel bymekaar te maak as wat moontlik is.
Die doel heilig boonop dikwels die middel. Wanneer geld die doel is lê die versoeking vir jou en wag. Dit is net ʼn kwessie van tyd dan neem jy kort paaie na kits rykdom. Suid-Afrika het talle voorbeelde daarvan.
Geld as ʼn middel tot ʼn doel, die doel wat God met my lewe het werk totaal anders. Die Here het nie ʼn probleem daarmee dat sy kinders goed lewe nie.
Watter Vader gun dan nie vir sy kinders die beste nie?
Die bedoeling is egter dat ander eweneens aan die beurt kom in die wyse waarop ek met geld omgaan. Op direkte en indirekte wyse word beelddraers van God gehelp om hul Godgegewe potensiaal te bereik.
Geld koop nie guns by God nie. Wie geld op verantwoordelike wyse, sonder weersin maar met blymoedigheid met ander deel, kan reken op God se seën in sy lewe.
Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die Here van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ‘n oorvloedige seën sal uitstort nie. – Maleagi 3:10
- ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za
Here bewaar ons asb van mamon