ToekomsVenster: Koninkryksmense

koninkryk-van-God-2

Foto: Pok_Rie/Pixabay.com

Ter aanvang maak ons ʼn paar verkennende opmerkinge oor die tema waaroor die nuwe ToekomsVensterreeks handel. Soos reeds aangedui praat ons aan die hand van ds. Colin Smith se dagboek, Laat U Koninkryk kom, oor die betekenis van ʼn Koninkrykslewe. Daar kan tog niemand wees wat erns maak met die Here wat nie begeer om meer effektief te wees in sy getuienislewering in hierdie wêreld nie.

Die konteks waarbinne ons die Koninkryk van God wil sien kom en waarvoor ons ons beywer is benewens ons eie familiekring, in konsentriese sirkels na buite die ander samelewingsverbande waarbinne ons elke dag leef.

Korporatief en vir almal van belang is dit Suid Afrika te midde van ʼn veelheid uitdagings.

Die intieme ruimte van ons eie gesin is die ideale oefenterrein waar ons die tersaaklike vaardighede ontwikkel om aan ons roeping uitvoering te gee. Ons word nie met die vaardighede gebore nie, dis in saadvorm deel van die wedergeboorte. Die Christelike lewe is ʼn lewenslange groeiproses waarin die vaardighede met tyd al hoe meer bemeester word maar net as ʼn mens volledig aan die proses oorgegee is. Dit word nie op lukrake wyse deel van jou lewe nie. Dis kos inspanning, toewyding, waaksaamheid en geduld. Dis die pad van dissipelskap.

Terug na die intieme kring.

Al die uitdagings wat die groter konteks aan ons gaan stel word in die klein kring beleef. Somtyds is dit selfs moeiliker daar om toegewyd te lewe juis omdat mense jou goed ken en weet wanneer jy voorgee en wanneer jy misluk. Konflik, misverstand, eiebelang, nie net by jouself nie maar ook by ander is te ene male deel van daardie opset. As jy dáár leer om dienswillig, onselfsugtig en terwille van ander te lewe sal jy dit makliker regkry tussen ander mense. In die Here se genade verruim hy ons grondgebied met verdrag. Vanuit die kleiner kring moontlik na die gemeente as geloofsgemeenskap, jou sosiale verbintenisse, jou werksplek, jou gemeenskap en uiteindelik die land Suid Afrika. Wie begeer om met die Here te wandel sal met meer vertrou word.

Dissipels is Koninkryksburgers en andersom. Dis mense wat aangegryp is deur die nuwe lewe begeer om die geheim van die lewe met ander te deel.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.