ToekomsVenster: Krag van die Heilige Gees

teeliggies-kersliggies-kerse

(Foto: Pexels/Pixabay)

“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” – Handelinge 1:8

Die krag wat die Heilige Gees gee word met dinamiese krag vergelyk; Krag soos ’n staaf dinamiet. Dit is plofbaar, kragtig, oortuigend, bemagtigend en oorwinnend. Die Gees is nederig maar die Gees van God is nie kragteloos nie. Die Gees is alles wat die Vader daarmee bedoel.

My belofte wat Ek met die uittog uit Egipte aan julle gemaak het, sal Ek nakom: my Gees sal altyd by julle bly. Moenie bang wees nie! – Haggai 2:5

Die Gees oortuig die hardste en mees onverskillige hart. Die Gees oorwin die mees oortuigende argument. Die Gees openbaar die leuen vreesloos. Die Gees breek die Woord oop. Die Gees ploeg ’n land dat die saad gesaai kan word.

Die Gees is die Heilige Gees, God self wat onder ons en in ons woning kom maak.

Wat Jesus in sy menslike gestalte nie kon doen nie nl. om oral teenwoordig te wees, doen die Gees oortuigend. Hier en daar en oral, onverdund, onverdeeld en ongeskonde.

Waar mense onder sy leiding bymekaarkom is Jesus teenwoordig, ook die Vader.

Die Gees herinner ons aan alles wat Jesus gesê en geleer het.

In Jesus se woorde is dit “voordelig” dat die Gees kom. Ons leef in die bedeling van die Gees. Die Gees is die eerste paaiement, die deposito, die waarborg dat ons alles sal ontvangs wat God belowe het.

Die Gees sal ons nooit teleurstel nie, maar die Gees kan bedroef word.

Wanneer die Gees deur ’n gebrek aan verwagting en geloof en ongehoorsaamheid en onwilligheid begroet word, word Hy bedroef.

En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag. – Efesiërs 4:30

Moenie die werking van die Heilige Gees teenstaan nie. – 1 Tessalonisense 5:19

Hoe staan dit met die Heilige Gees in jou lewe?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.