ToekomsVenster: Kragtig en aardskuddend

saad-saaier-rys

Foto: Pixabay/Pexels.com

Ek wonder waarmee jy jouself die afgelope weke besig gehou het?

Die voorreg om te midde van die afsondering wel met jou dagtaak voort te gaan vanweë die voordele wat die elektroniese media bied, is kosbaar. Derhalwe kon ek besig bly met allerhande takies wat met die media en bediening verband  hou. Tog was daar tyd om gras te sny (twee keer, maar die kante bly ʼn uitdaging), hier en daar iets reg te pak en ʼn paar saadjies in die grond te kry.

Ek het iewers gelees dat saadjies plant in leë eierhouers ʼn oulike idee is. Wanneer uitplanttyd kom sny jy net die stukkie uit en plant die hele affêre sommer so.

Met die dat die saadjies maar beskeie klein is kom daar sommer verskeie plantjies in een eier se huisie op. Ek sal maar later sien hoe ek dit gaan hanteer dat die saadjies nie verlore gaan nie.

Dit het ongeveer ʼn week geneem voordat die eerste tekens van lewe daar was.

Soos klokslag het ek elke oggend sedert ek die outjies gesaai het gaan kyk of daar lewe is. In die tyd het ek getwyfel of die saadjies wel gaan ontkiem, dit neem dan so lank. Uiteindelik was die eerste sproeitjies daar. Wat ʼn verligting!

Nou is dit dae later en die nuwe plantjies begin lyf kry maar glo my, dit gebeur nie oornag nie. Ek kan verstaan waarom dit dalk meer lonend is om sommer klaar gekweekte groete by die mark te gaan koop as om op hierdie manier beproef te word en tog, daar is iets besonders daaraan om die spinasie en blaarslaai te sien lyf kry.

In oordragtelike sin dink ek aan God se geduld met ons. Die saad van die Woord (Markus 4 met die gelykenis van die saaier kom by my op) val somtyds nie op goeie grond nie. Trouens, ʼn onrusbarende 50% van die saad wat gesaai is, gaan uiteindelik verlore, as ʼn mens die gedeelte met ʼn bietjie verbeelding lees.

Een kwart daarvan kom nie eers “op” nie, die voëls pik dit op en  gaan daarmee heen. Slegs een kwart dra vrug, oorvloedig en indrukwekkend. Soos prof Stephan Joubert dit stel “kragtig en aardskuddend”.

Wat het van die saad geword wat in ons lewens gesaai is?

Onthou die gedagte is tog dat saad vrug dra. Om iewers langs die pad handdoek ingooi vanweë vervolging en druk enersyds of die sorge van die lewe, die sug na rykdom en die begeerlikheid van die wêreld andersyds, is nie wat die Saaier in gedagte gehad het nie.

Die saad word ook nie eenmalig in ons lewens gesaai nie. Die Saaier doen gereeld by ons aan.

Mag die saad wat in jou lewe gesaai is tot wasdom kom, oorvloedige vrug dra en die Koninkryk van God in heerlikheid laat deurbreek.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.