ToekomsVenster: Kyk, die vyand is aan die kom


herder-wagter

Foto: Thegospelcoalition.org

Mens, Ek het jou die wag vir Israel gemaak. Wanneer jy by My die opdrag ontvang, moet jy hulle namens My waarsku. Wanneer Ek van die goddelose sê dat hy sal sterwe, en jy praat nie en waarsku hom nie oor sy doen en late nie, sal hy deur sy sonde sterf, maar Ek sal jou verantwoordelik hou vir sy dood. – Esegiël 33:7-8

Een oggend by ‘n biduur vertel iemand wat kinderevangelisasie doen van ‘n kamp wat hulle vir jong kinders aangebied het. Op hierdie kamp het ongeveer 10 van hierdie kinders hulle lewe aan Christus oorgegee. Een van hierdie kinders het begin om traktaatjies aan mense te gee as deel van sy bediening. ‘n Jong seun van 11 jaar oud het ‘n passie vir mense wat die Here nie ken nie. Ek het onwillekeurig terug gedink aan my jonger dae toe ek baie meer begaan was oor mense wat die Here nie geken het nie.

Esegiël hoor dat die Here Hom as wagter oor Israel aangestel het (33:7). Sy taak is om hulle lewe te beskerm. Die beeld word gebruik dat ‘n vyand die lewe van die volk bedreig (33:2,3). Hy staan op die stadsmuur. Hy sien die vyand kom. Hy kan twee dinge doen. Hy kan hulle waarsku of niks doen nie. As hy hulle waarsku en hulle luister, was hy ‘n instrument in God se hande om hulle lewe te red. As hulle nie luister nie, is dit hulle eie skuld (33:4,5).

As hy egter kies om niks te doen nie, sal die vyand kom en hierdie mense vernietig. Hulle het nie geweet van die vyand nie. Hulle het nie die kans gehad om te reageer nie. Wie se skuld is dit? Dis die wagter se skuld. Hulle vernietiging staan op Esegiël se rekening (33:6).

Ek is seker dat jy iemand ken wat vandag moet hoor dat sy of haar lewe deur ‘n vyand bedreig word. Ek weet dat Esegiël se konteks van ons s’n verskil, maar die beginsel is dieselfde. Miskien is hierdie vyand ‘n ongewenste verhouding, dwelms, drankmisbruik, woorde, haat, vuil taal, afvalligheid van die boodskap van die evangelie, ‘n huweliksverhouding wat verkrummel, die verwaarlosing van sy of haar gesin weens werksdruk of ‘n siek ambisie. Jy kan die Tien Gebooie lees en sien watter vyande ons lewe bedreig. As hierdie person nie gaan wegdraai van hierdie vyand af nie, sal hulle vernietig word. Miskien is dit jou kind, broer, suster, beste vriend, pa, ma of iemand by jou werk. Daar is tonne mense op die lyste van gemeentes wat geen verhouding met God het nie. Hulle ken Jesus nie. Hulle het nog nooit aanvaar dat Hy ons Verlosser is nie.

God het jou as wagter vir jou medemens aangestel. Wat ‘n verantwoordelikheid!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.