ToekomsVenster: Kyk ons die hart van die saak mis?

(Foto: David Travis/Unsplash.)

Miga 6:1-4,6-8 – Hoor wat die Here sê: Maak klaar, roep die berge as getuie, laat die heuwels hoor wat jy te sê het. My volk, wat het Ek jou aangedoen? Hoe het Ek jou moeg gemaak? Antwoord My! Ek het jou uit Egipte gebring, Ek het jou uit die plek van slawerny gered, Ek het vir Moses gestuur om jou te lei, ook vir Aäron en Mirjam. 6 – Wat sal ek saamvat as ek na die Here toe gaan, as ek voor die hoë God gaan kniel? Moet ek met offers na Hom toe gaan, met jaaroud kalwers? Sal die Here duisende ramme aanvaar saam met tien duisende offers van olie? Moet ek my eersgeborene offer vir my sonde, hom wat uit my liggaam kom, vir my oortreding? Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.

Ons kyk dikwels die kern of hart van ʼn saak mis en verdwaal in allerlei kosmetiese dinge. Die hart van die saak in die lewe van Israel, ook ons as Nuwe Testamentiese Israel, is inderdaad die hart self. Die Here is in die gelese gedeelte hartseer oor die ongeloof en dislojaliteit waarmee sy goedheid en guns in die lewe van die verbondsvolk telkemale gemis word. In stede daarvan om uit dankbaarheid vir die verlossing en voorsiening van God te lewe probeer die volk God behaag deur uiterlike seremonies.

Die teks maak dit egter duidelik dat selfs duisende ramme en tienduisende offers van olie God nie kan behaag as die primêre, naamlik die hart en hartsverandering nie in plek is nie. Ons kompliseer sake eerder as om die makliker te maak en om die Here te behaag is nie moeilik nie.

Duet. 30:11-14 – “Die gebod wat ek jou vandag beveel, is nie te moeilik vir jou nie. Dit is ook nie buite jou bereik nie. Dit is nie in die hemel nie, sodat jy nie hoef te sê: ‘Wie sal vir ons opklim hemel toe om die gebod vir ons te gaan haal en ons dit mee te deel sodat ons daarvolgens kan lewe nie. Dit is ook nie oorkant die see nie, sodat jy nie hoef te sê: ‘Wie sal vir ons oorvaar na die oorkant toe om die gebod vir ons te gaan haal en ons dit mee te deel sodat ons daarvolgens kan lewe  nie. Die gebod is baie naby aan jou, jy kan daaroor praat, jy ken dit, jy kan daarvolgens lewe.

Mens het nie nodig om na die hemel op te klim of die dieptes van die aarde te besoek ten einde God se wil te verneem nie. Dis duidelik, God word geëer deur ʼn toegewyde, dankbare en lojale hart wat warm klop met liefde. Liefde en trou en bedagsaamheid voor God.

Nie tienduisende offers nie, nie self kastyding en boetedoening wat nooit klaarkry nie, nie askese en eindelose vas rituele nie, net doodgewone doen wat reg is.

Dit is die vernaamste manier waarop ons verbintenis aan God konkretiseer word, hande wat help, voete wat agterna loop, oë wat sien, ore wat hoor en harte wat somtyds treur.

Ja, selfs die Eersgeborene sal geen verskil maak nie omdat God reeds sy eersgeborene gegee het.

Lewe vanuit daardie realiteit, leef deur die krag en inspirasie van die Gees, wees beskikbaar en ervaar God se bonatuurlike vrede.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here dat U na die stukkende wereld gekom het om te red wat verlore is…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.