ToekomsVenster: Kyk weer, alles is moontlik vir God

liggies-geskenk-skenk

(Foto: Chris Moore/Unsplash)

Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: “Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.”- Matt 19:26

Met jou toestemming deel ek nog ʼn paar metafore oor die geestelike lewe na aanleiding van ʼn onlangse kuiertjie by die see.

Met die baie reën wat geval het, het daar ʼn paar dae groot hoeveelhede riet op die strand uitgespoel. Dit het ʼn mens nogal laat wonder waar die riete vandaan sou kom?

Die riet is ietwat onooglik en jy moet mooi trap om jou pad na die branders te vind.

Toe ek een oggend terwyl die son heerlik warm skyn besluit om te gaan afkoel sien ek dat ʼn aantal mense skuilings met die riet op die strand gebou het.

Kinders het daarvan ʼn heerlike speelplek gemaak terwyl ander dit gebruik het om verder koelte verskaf.

Soveel waardering vir die innovasie en nuutskeppings.

Die lewe spoel soms dinge uit wat minder aanskoulik, aangenaam en aanvaarbaar is. Dit is ʼn realiteit waarmee ons moet rekening hou.

Alles is nie altyd ideaal nie, daar gebeur goed wat jou verkeerd opvryf en onvergenoegd laat. Daar skuil egter ʼn geskenk in daardie minder aangename ervarings wat nie altyd onmiddellik sigbaar is nie. Dink so bietjie na oor wat op die tafel is. Vat die nuwe moontlikhede en meng dit met passie vir die lewe, skeppende energie en ʼn knippie avontuurlustigheid. Skielik laat dit jou veel beter daaraan toe as wat jy gedink het moontlik sou wees.

Dink maar aan die skeppingsverhaal. God begin met ʼn kolkende en malende watermassa. Alles is donker, onherbergsaam en selfs ʼn bietjie onheilspellend. God begin praat, skep en pragtige tonele ontvou.

Nehemia het nie veel om mee te werk nie. Alles is verbrand en vernietig. Al wat rondlê is die brokstukke van ʼn eens florerende gemeenskap. Vir Nehemia is dit genoeg. Die einste verbrande stene word die materiaal waarmee en waaruit die nuutskepping te voorskyn tree. Te midde van die spot, haat en hoon van die massas verrys stabiliteit en vastigheid en beskerming. In rekordtyd word die mure herbou.

Vyf broodjies en twee vissies was lagwekkend min vir ʼn menigte mense. Jesus laat dit egter aan die honger skare uitdeel en die res is geskiedenis.

Wat net na brokstukke, uitgespoelde riet of ʼn kolkende watermassa lyk, mag verrassende resultate lewer.

Wat lê in jou menswees, omgewing, verhoudinge en verstaan opgesluit? Kyk weer.

Daar is genoeg om ʼn nuwe skepping tot stand te bring.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.