ToekomsVenster: Laaste asem

(Foto: Oleksandr P/Pexels)

“Jesus het weer hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.” – Matteus 27:50 (AFR83)

Ons gesels so ʼn bietjie met mekaar oor “asem” in die week na aanleiding van Frieda Kruger se lied, waar sy oor die onderwerp sing. My soektog op die internet lei my na nog ʼn lied wat met “asem” te doen het en dit is die lied getiteld, “Laaste asem”.

Ons sê mos “toe het hy sy laaste asem uitgeblaas”.

Dit is asem wat ons aan die lewe hou, wat bevestig dat ons nog deel het aan die teenswoordige werklikheid. Ons herinner ons weer aan die Prediker wat sê, daar is ʼn dag om gebore te word en daar is ʼn dag waarop ons die laaste asem sal uitblaas.

Dit is opmerklik dat ons nie weet wanneer ons die laaste asem gaan uitblaas nie.

Tydens begrafnisse sê mense dikwels vir mekaar: “Ons moet meer bymekaar uitkom, die lewe is onseker, ons weet nie wat die lewe vir ons inhou nie en ons weet nie hoeveel tyd ons oor het nie”.

Die dood diskrimineer nie wat ouderdom betref nie, die dood kom ongenooid, is nooit welkom nie; en tog is dit ʼn groot realiteit waarmee elkeen van ons moet reken.

Die vraag is hoe ons dan ons lewens moet inrig teen die agtergrond daarvan dat daar ook ʼn “laaste asem” is wat in elke mens se dagboek geskeduleer is. Ek ken nie die oomblik nie, maar God in sy wysheid weet seer sekerlik wanneer daardie oomblik sal wees.

Dink vir ʼn oomblik daaroor na, sou ek weet dat ek vandag my “laaste asem” gaan uitblaas, hoe sou ek leef; wat sou ek in plek kry; wat sou ek deurdink en afhandel; watter woorde sal ek spreek; vir wie sal ek sê dat ek omgee, vir wie sal ek bedank en komplimenteer; ja, vir wie sal ek blomme koop?

Dit is ʼn ongemaklike gedagte, vandag kan my en jou laaste dag wees.

Daar kan vandag ʼn “laaste asem” geskeduleer wees.

Vir kinders van die Here is dit nie bedreigend nie, want dit is die deur na ʼn volgende hoofstuk van ons ewigheidsbestaan en tog, wanneer ons van hier vertrek is dit om nie weer terug te keer nie.

Mag ek voorstel dat jy soos ek vandag ʼn paar oomblikke neem om daaraan te dink dat daar vir elkeen van ons  ʼn “laaste asem” geskeduleer is.

Hoe wil ons leef in die lig van daardie realiteit?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.