ToekomsVenster: Laat die kindertjies na My toe kom

Foto: Wendy Aros-Routman/Unsplash.

Ek was honger en julle het My iets te ete gegee. – Matt. 25:42

Die noodkreet van kinders ruk my in die hart. Ek kan myself moeilik daarmee vereenselwig dat in ʼn land waar luukse motors rondom kerkgeboue geparkeer staan kinders nie behoorlik versorg word nie. Ek verwyt nie want die vraag kom terug na my. Hoe slaap ek saans as kinders in my omgewing honger is?

Die merkwaardige voorbeeld wat ʼn onderwyser van Elsiesrivier stel is soos ʼn vars bries. Die jong man het tydens die afgelope vakansie nagenoeg 400 honger kinders van sy skool soggens en smiddae van kos voorsien. Dit was egter die noodroep van ʼn moeilike graad 5 leerling een aand laat wat hom laat toetree het.

Die belhamel, wat geen respek vir gesag het nie, het ʼn Facebook-boodskap aan sy onderwyser gestuur dat hy honger is. Toe Dylan, die onderwyser van wie ons praat, te midde van die gevaarlike omgewing waar die leerling bly die hartseer omstandighede sien waaronder die kind moet gedy, het sy hart gebreek. In stede van verder op die grond slaap het Dylan sy bed vir die seun wat vier dae laas geëet het, aangebied.

Dylan wat self ʼn moeilike kinderjare agter die rug het en by geleentheid dae aaneen springmielies geëet het ten einde sy honger te stil se optrede het die atmosfeer in die skool verander. Die einste leerling het sy graad sonder hulp geslaag.

Is daar nog Dylans in ons mooi land?

Toegegee, God het aan ons verskillende gawes en talente gegee. Kom ons gebruik dit om ʼn daadwerklike verskil te maak.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.