Lees: Amos 5:24:
“Maar laat die reg en die geregtigheid te voorskyn kom, laat dit aanrol soos watergolwe, soos ‘n standhoudende stroom.”
Gebed:
O Here, regverdige God, ons staan skuldig voor U, as enkelinge en as kerk. Daar is soveel onreg in ons land, en ons steur ons baiekeer nie daaraan nie. Erger nog, partykeer het ons deel daaraan – trek ons voordeel daaruit. Gee aan ons ʼn opmerksame hart en ʼn lewendige gewete. Ons bid dat die reg in Suid-Afrika sal aanrol soos watergolwe en geregtigheid soos ʼn standhoudende stroom.
Om oor na te dink:
Op watter maniere kan ons in ons eie kring help om geregtigheid te bevorder; om korrupsie en morele verval teen te staan? Kan ons gemeente ons daarmee help? Die dominees, in hul preke?
- ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.