ToekomsVenster: Laat die straf aan God oor

(Foto: Jude Beck/Unsplash.)

Geliefdes, julle moet julleself nie wreek nie. Laat die straf aan God oor. Daar staan mos in die Skrif: “Dit is mý reg om te straf; Ek sal vergeld, sê die Here.” Doen eerder wat die Skrif sê: “As jou vyande honger is, gee aan hulle iets om te eet. As hulle dors is, les hulle dors. Deur dit te doen, sal julle hulle bloedrooi van skaamte maak.” Moenie toelaat dat die slegte julle onderkry nie, maar deur goed te doen moet julle die slegte te bowe kom. – Romeine 12:19-21

Terugbetaal vir wat aan ons gedoen is – dit lê in ons gene, dis hoe ons bedraad is, dit maak sin. Wie ons skade berokken moet rekenskap gee, reg en geregtigheid moet geskied, hulle kan nie daarmee wegkom nie.

Dit is die tipiese redenasie van mense wat verontreg is en wie kan hulle dit kwalik neem? As jy seermaak, sal jy seerkry.

Dit voel asof die Here die onmoontlike van ons verwag maar nou het Hy ʼn navolgenswaardige voorbeeld gestel.

Dit is een ding as brose mense soos ons veronreg word, dit is iets anders as dit die Koning van die heelal deur sy Seun en Heilige Gees is wat die prooi van ander mense se afguns en jaloesie en agterdog word.

Hy het immers aan sy eie lyf gevoel hoe dit is om onregmatig verontreg te word. Hoe het Hy reageer? Is daar net dalk toestemming om wat ander aan my doen te vergeld?

Helaas en Goddank nie. Jesus het die seer wat ander Hom aangedoen het stylvol en geïnspireerd gedra. Trouens, die hoogtepunt van mense se arrogansie, die kruis waaraan Hy vasgespyker word, bied die ideale geleentheid om te vloek en te vervloek. Jesus bid egter vir sy vyande, Hy vra dat die Vader hulle die ongeregtigheid nie sal toereken nie.

Hy sou legioene engele geroep het om die voortvarendheid van Godloënaars tot ʼn natuurlike konklusie te bring, maar Hy doen dit nie.

Hy antwoord trouens nie eers wanneer die mense onwaarhede na sy kant toe slinger nie.

Hy antwoord inderdaad soos die teks ons voorskryf met ʼn seën – die seën van sy eie dood en opstanding, die genadegawe van die ewige lewe, die vreugde van sonde wat nie toegereken word nie.

Is daar iemand wat jou verontreg het? Wag jy vir die regte oomblik om terug te betaal? Los dit liewer en vertrou die Here ook hierin.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.