ToekomsVenster: Laat hy val waar hy wil

(Foto: Denys Nevozhai/Unsplash)

“Oë wat blink, bring vreugde. Goeie nuus bring gesondheid.” − Spreuke 15:30 (NLV)

Daar word gesê dat oupas daar is om kleinkinders stoute dinge te leer. Nou ja, iets daarvan is waar van hierdie oupa.

Ons is bevoorreg om ʼn hele arsenaal kleinkinders te hê en geniet hulle terdeë.

Die twee oudstes is rondom nege jaar oud. Suzette, my ander helfte weet presies. Sy weet alles presies. Ek weet so van ongeveer, van naderby, omtrent en dit is genoeg vir my. Ongeveer 9 jaar oud. Die res is kleiner. Die jongste is ongeveer ʼn jaar en ʼn stukkie oud, maar almal is hulle Oupa s’n.

Wanneer die kleintjies effens begin om begrip te toon en ons geniet ietsie lekker sê oupa: “Cheers, laat hy val waar hy wil”.

Nihan kan dit al nasê, Lunamé maak drie sulke onverstaanbare klankgeluidjies wat in peutertaal beteken: “Ek weet nie waarvan oupa praat nie, maar dit het betekenis vir hom en hy geniet dit wanneer ek dit sê, so ek doen so voort”.

Die lewe is nie sleg nie, inteendeel. Die lewe is soos my goeie vriend Willa Schoeman altyd sê, “ʼn lied”. Ja, somtyds is daar ʼn paar mineur-tone wat die melodie effens hartseer laat klink, maar oorwegend is dit meesleurend mooi. Daar is ʼn lied waarvan die woorde soos volg klink:

“Kyk ʼn bietjie om jou rond en dan sal jy sien, al die kleure wat die veld voorsien, dan weet jy God is daar”.

God is daar, nog altyd daar.

Ek herinner my aan ʼn tyd toe ek myself in ʼn vreemde land en ʼn vreemde stad, ver van alles wat bekend is bevind het en die mineur-tone, die hartseer note, my wou oorneem. Toe sien ek dit, ʼn neon advertensie wat bokant ʼn gebou uitstaan met die woorde: “God is hier”.

God is hier. Leef voluit.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.