ToekomsVenster: Laat jou lig skyn

liggies-om-hek

Foto: Jodie Walton/Unsplash.com

As daar iemand is wat opgeruimd is, moet hy lofliedere sing. – Jak. 5:13b

Efesiërs 5:19 – en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here.

Spreuke 15:15 – Dit gaan altyd sleg met ‘n bedrukte mens; die blymoedige mens se hele lewe is ‘n fees.

In teenstelling met die voorafgaande teks word ʼn ander scenario geskilder. Inderdaad gaan dit nie altyd sleg nie. Daar is tye van dankbare oorwinning en tevredenheid in die Here. Daar is tye van vervulling en opgewondenheid. Dis lekker om opgeruimd en vrolik te wees. Die motivering is uiteraard dat God in beheer is en goeie dinge teweeg bring in jou lewe.

Jakobus sê lofliedere is gepas onder sulke omstandighede. Spontaan sing oor die Here se goedheid en guns is besonders. Die Here luister nie of ons nootvas en musikaal is nie. Hy kyk na die hart. Dis tog lekker om jou kinders of kleinkinders onbevange te hoor sing en neurie. As hulle bewus word dat jy luister word hulle skielik skaam.

Het dit jou al oorgekom dat jy die lof van die Here luidkeels agter jou motor se stuurwiel verwoord en dan in die verbaasde of geamuseerde gesig van ʼn medebestuurder in die motor langsaan vaskyk? Aarde sluk my in dink ʼn mens maar waarom. Dalk die venster afdraai en vir die nuuskierige buurman getuig, die Here is goed, altyd goed. Hy mag met ʼn amen halleluja of prys die Here antwoord vir al wat jy weet.

Entoesiasme en ʼn blymoedige gees is aansteeklik. Laat jou lig skyn. Sing veral in die erediens met oorgawe en oortuiging. Ons is somtyds so inkennig in die erediens terwyl dit juis die plek behoort te wees waar ons vrye teuels gee aan ons dankbaarheid en liefde vir God.

Psalms 50:14 – Lof is die offer wat jy aan God moet bring. Betaal jou geloftes aan die Allerhoogste

2 Samuel 12:20 – Toe het Dawid van die grond af opgestaan. Hy het gaan was, reukolie aangesmeer, aangetrek en na die heiligdom toe gegaan om te aanbid. Hierna is hy huis toe en het hy kos gevra. Hulle het hom ‘n ete voorgesit en hy het geëet.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.