ToekomsVenster: Laat my oorwinningsliedere sing

loof-lofprysing-aanbidding

(Foto: Matt Botsford/Unsplash)

“Dit is waarom elke gelowige in ʼn tyd van nood tot U bid; selfs vloedwaters sal hom nie skielik oorval nie. U is vir my ʼn skuilplek, U beskerm my teen aanvalle, U laat my oorwinningsliedere sing.” – Psalms 32:6-7

Nog ʼn paar gedagtes na aanleiding van Psalm 32, en ons het vandag vers ses en sewe voor ons.

Almal weet hoe dit voel om in ʼn atmosfeer te probeer funksioneer waar daar spanning is.

Spreekwoordelik word daar gepraat van die “olifant” in die kamer. As die olifant nie aangespreek word nie, bly die atmosfeer toksies by wyse van spreke. Die regte ding om te doen is om die olifant los te laat in die wildernis waar dit hoort. Hanteer onaangename sake so gou as wat moontlik is en gaan aan met die lewe.

In ondraaglike sin is die olifant in ons verhouding met die Here, die sonde wat ons nie met hom deurgepraat het nie. Dit veroorsaak spanning en afstand.

Die Bybel sê immers dat die Hand van die Here nie te kort is om te help en dat sy oor nie te swaar is om te hoor nie. Dit is natuurlik ou vertaling, maar die Bybel wys ook daarop dat sonde ʼn skeidsmuur bou tussen Hom en sy kinders. Lees gerus weer Jesaja 59:1.

Opmerklik dat die Psalmdigter ʼn verband trek tussen sonde belydenis, die afhandeling van dit wat verkeerd is en die vrymoedigheid wat ʼn mens dan het om God met jou lewe te vertrou.

Vers 6 begin met die woorde “dit is waarom elke gelowige in ʼn tyd van nood tot u bid”. Wanneer die verhouding tussen God en mens herstel is, lê die pad oop na die Vaderhart. Die Vaderhart is vol deernis en omgee en Hy wil die beloftes wat Hy maak in die lewens van sy kinders vervul.

Ek het dit al dikwels gesê en hier word die hele gedagte weer ʼn keer onderstreep; sonde laat ons onnodig swaarkry. Die lewe is uitdagend genoeg dat ʼn mens nog ook in sonde sal wil voortleef.

Die uitdagings wat die lewe bied is baie en gevarieerd. Dit kom dikwels op ʼn mens af sonder waarskuwing. Somtyds is die uitdagings so oorweldigend dat jy nie weet hoe jy dit gaan oorleef nie. God is vir ons ʼn toevlug in die nood, ʼn rots wat altyd vas bly staan.

Om dan in die anderkant van jou uitdagings te kom en ʼn oorwinningslied tot eer van die Here aan te hef, is ʼn wonderlike voorreg.

Ek wonder of jy in jou geloofgemeenskap die “Oorwinningslied” sing? Dit kom inderdaad al ʼn langpad saam met die kerk, maar bly nog altyd waar.

“Die Here is ons Vesting wat vir altyd sal bly staan

Hy beskerm elke mens wat in geloof na Hom toe gaan

Hy’s ons Skuiling, Hy is ons Wapen,

Hy het die vyand reeds verslaan

Loof Hom, prys Hom, halleluja!”

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.