ToekomsVenster: Leef in vrede en blydskap

sonneblom-02

Foto: Pexels/Pixabay.com

Verder, broers, wees bly, streef na die geestelike volwassenheid, aanvaar vermaning, wees eensgesind, leef in vrede. En die God van liefde en vrede sal by julle wees! – 2 Kor. 13:11

Paulus, in sy slotopmerkings aan die gemeente in Korinte, onderstreep ’n paar belangrike sake wat aandag behoort te geniet in die lewe van gelowiges.

Blydskap is ’n vrug van die Heilige Gees. Toegegee, wanneer ’n mens onder druk verkeer is dit somtyds baie moeilik om bly te wees. Is blydskap dan nie ’n teken dat dit met jou goed gaan nie? As dit dan minder goed gaan is hartseer en trane dalk die aangewese.

Uiteraard is hartseer ’n emosie wat jy ook mag voel, want selfs Jesus was ook soms hartseer. Die ongeloof en selfs swaarkry van mense het nie by hom verbygegaan nie. Met Lasarus se afsterwe word Jesus diep geraak deur die hartseer van mense.

Toe Jesus sien dat Maria huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het sy gemoed vol geskiet en was Hy aangedaan. – Joh. 11:33

Met Jerusalem se volhardende ongeloof, word hy eweneens hartseer. (Lees Matt. 23:37)

Ek dink nie ’n mens moet of kan blydskap forseer nie. Die dinge wat Paulus in hierdie teksvers noem stuur af op die vrede en dit glo ek is en kan teenwoordig wees, ongeag wat jy voel en beleef. Vrede al is jy hartseer en tranerig.

Om te huil oor die swaarkry van en in hierdie wêreld, die onreg wat toeneem, die blatante miskenning van ander mense se menswaardigheid, die vernielsug van opstandiges en die mense wat aan Covid-19 sterf, is verstaanbaar.

Daar is ’n tyd vir huil en trane, leer die Prediker ons. (Lees Pred. 3:4)

Tog kan ’n mens ook nie aanmekaar huil nie. Dit stoot ander mense van jou weg want niemand wil voortdurend hoor hoe sleg dit gaan nie.

Iewers kom ’n mens aan die ander kant van trane en dan begin die glimlag weer op die mondhoeke speel, en nie lank nie, en jy begin blydskap ervaar.

Die Bybel sê, wees altyd bly, Paulus herhaal dit selfs, wees altyd bly. (Fil. 4:4) Al is dit nie elke dag haalbaar nie, kan ’n mens daarna strewe. Na alles, Hy hou die hele wêreld in sy hand, eweneens vir jou.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here dat ons tenmidde van chaos in die wereld U vrede kan ervaar…dit gaan alle verstand te bowe…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.