ToekomsVenster: Leef in vrede

seemeeu-vrede

(Foto: Vic_Padilla/Pixabay)

Verder, broers, wees bly, streef na die geestelike volwassenheid, aanvaar vermaning, wees eensgesind, leef in vrede. En die God van liefde en vrede sal by julle wees! – 2 Kor. 13:11

Leef in vrede, sê Paulus. Mense wat met hulself in ’n geveg verkeer en nie innerlike vrede het nie kan nie vrede met ander mense beleef nie. Die Bybel sê daar kan tog nie soet en bitter water uit dieselfde fontein borrel nie. Dit is die een of die ander. Jy kan het gee en deel wat jy het.

Met die tong loof ons die Here en Vader, en met die tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is. Uit dieselfde mond kom lof en vloek. My broers, so moet dit nie wees nie. ‘n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en brak water opborrel nie. ‘n Vyeboom, my broers, kan tog nie olywe dra nie, of ‘n druiwestok vye nie. ‘n Brak fontein kan mos nie vars water gee nie! – Jak. 3:9-12

Mens moet natuurlik vra waarom jy so onvriendelik met jouself is?  Altyd besig om jouself af te kraak, te verkleineer, selfs te beledig en te ondergrawe.

Siek en bedenklike teologie wil dit hê dat jy jouself voortdurend moet aftakel. Dit is die nederigheid wat God van ‘n mens vra, word gesê. Jy mag nie van jouself hou nie, dit is arrogant. Jy moet jou sondige aard voortdurend beklae en nooit dink dat jy iets is of dat daar van jou iets sal kom nie.

Nou wie wil in elk geval ’n Christen wees as dit is wat van Christene verwag word. Ek wonder waar kry ’n mens ’n teksgedeelte wat so ’n verwerplike selfsiening sou wou ondersteun.

Nee, my Bybel sê dat ons Beelddraers van die lewende God is. Ons is die kroon van die skepping, hemel ambassadeurs, deur die geloof koningskinders, erfgename en mede-erfgename. Priesters vir ons God en Koning, huisgenote van die geloof, tempel van die Heilige Gees, volk van God, burgers van die Koninkryk, vriende van Jesus.

Daaroor kan ’n mens opgewonde raak. Die vertrekpunt is dat God in Christus Jesus, dit wat ons van Hom skei, verwyder het. Die prys is betaal, my ongeregtigheid is aan die kruis vasgespyker.

God kyk met sagte oë na my, ek is sy kind.

Mense wat in vrede met ander lewe verstaan iets van die nuwe skepping, die genade verbond wat God met sy kinders in standhou.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.