ToekomsVenster: Leef met ’n besef van genade

blomme-blommetjies-hand

Foto: Isaac Mehegan/Unsplash.com

My broers, julle wat glo in ons Here Jesus Christus, die Here aan wie die heerlikheid behoort, moet mense nie volgens hulle uiterlike beoordeel nie. – Jak.2:1

Mens wil vra, Jakobus, hoe kan jy dit van ʼn mens verwag, maak nie saam hoe geestelik hy is nie? Dit lê in ons DNS Jakobus, ons laat ons deur die eksterne, die sigbare, die ooglopende en die voorhande lei in ons beoordeling van mense.

Hoe kry ʼn mens dit reg om dit mis te kyk en te sien wat aan die binnekant is? Hoe kom ʼn mens vry van vooropgesette idees en vooroordele?

Die Nuwe Testament sal net een antwoord hê, leef met ʼn besef van genade. As jy eenmaal besef waar die Here jou om haal het, wat die toekoms sonder Hom ingehou het en wat Hy in jou lewe kom doen het en steeds doen, sal jy anders dink oor ander mense.

By God is daar nie groot en klein sonde nie. Sonde is sonde en is rebellie teen God. Rebellie is hoogverraad teen die Een wat aan jou die lewensasem gegee het. Dink daaroor na en kom terug na die probleemstelling. Hoe kom ek by die plek waar ek ander mense nie op hul voorkoms takseer nie? Oorweeg die genade wat God aan jou bewys het.

Jakobus anker die oproep in die belydenis van God se kinders dat Hy die Here is. Wêreldlinge, mense wat God nie ken nie en sy genade nie deelagtig geword het nie, het dalk nog ʼn verskoning, maar geesgenote van die lewende Christus staan sonder verweer.

Paulus wys daarop dat ons Christus ook uiterlik beoordeel het. Hy wat sy sigbare en tasbare gestalte betref, voldoen nie noodwendig aan die vereistes wat ʼn mens aan ʼn universele Redder sou wou toedig nie. Jesaja 53 wys ons op sy onaansienlikheid. Hy het die toets wat bevooroordeelde mense aanlê nie geslaag nie. Juis daarom het hulle Hom gekruisig.

God weerstaan die hoogmoedige. Hy hou nie van ʼn trotse en aanmatigende lewenshouding nie. Hy soek na ʼn gebroke gees en ʼn sagte mens.

Verskoon as ek terugkom na ons konteks in Suid Afrika. Ons verlede is deurspek met vooroordeel en hoogmoed. Ons het ander mense minderwaardig geag en hul menswaardigheid in die proses geweld aangedoen.

Ons het steeds die geleentheid om dit anders te doen. Kom ons kyk verby die eksterieur en soek na die beeld van God aan die binnekant van elke persoon.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Willemien ·

Ek geniet my godsdiens. Ek is baie lief vir die Here.
Ek verstaan nie hierdie vreeslike geletterde Afrikaans nie.
ek kry my boodskappe elke dag via email. ek geniet Gedagte vir die dag vreeslik. dis eenvoudig. Toekomsvenster se Afrikaans is vir my onverstaanbaar. of is ek net dom.

R ·

Nommer een moet ons boodkap reg uit die bybel kom.
Gedagte en Toekomsvenster geniet ek. Dit bring iemand se perspektief hoe hulle daardie boodskap van God af lees. Partykeer kom hul siening maklik oor en soms bietjie moeiliker.
Ek’s dankbaar dat ons so saam saam God se woord lees, daaroor nadink en kyk hoe ons eie hart staan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.