ToekomsVenster: Leef vandag voluit en dankbaar

sonstrale-dankbaarheid

(Foto: lohannaps/Pixabay)

Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus. – Kolossense 2:17

Dit is interessant dat mense die skaduwee eerder as die werklikheid verkies. Wat in die ou Testament beloof en op verskeie maniere simbolies verpak is, het in Christus ʼn werklikheid geword. As die werklikheid dan deurgebreek het maak dit nie sin om steeds aan die skaduwee vas te hou asof dit normatief is nie. Die geneigdheid om die versoeningswerk van Christus te komplimenteer is subtiel maar werklik.

Jesus het nie ʼn halwe werk gedoen aan Golgota se heuwel nie. Hy het die volle prys betaal en die opstanding uit die dood is die bevestiging van die algehele oorwinning wat Hy behaal het.

Daarmee bedoel ek geensins dat daar nie in die skaduwee sinvolle momente is waarby ʼn mens van tyd tot tyd kan aansluit nie.

Die Pasga soos wat dit in oud Israel gevier is, is ryk aan simbole. Simbole egter wat sonder uitsondering in Christus hul volle betekenis en reikwydte gekry het.

Om die simbole te bedink, dit selfs somtyds te herhaal en te vier, is seker nie verkeerd nie. Dit mag egter nooit die werklikheid versluier nie. Dit mag nie ʼn ekstra word wat nou van jou ʼn baie besondere tipe Christen maak nie. Daar is net een soort Christen; bloedgewaste begenadigde en vrygespreekte mense wat uit dankbaarheid hul getuienis uitleef.

Die ou Testament het fenomenale, navolgenswaardige lesse om ons te leer.

Feit van die saak is dat die Ou Testament in die teken van belofte staan. Die belofte is vervul. Niks is uitstaande nie. Wat uitstaande is, is die nuwe Testamentiese verwagting dat Christus eenmaal op die wolke sal verskyn. Daarbenewens is daar niks wat nog moet gebeur of wat nog gedoen moet word nie.

Leef vandag voluit en dankbaar vir die omvattende genade van God.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.