ToekomsVenster: Leef vanuit die werklikheid

vuurwerke-op-slimfoon

Foto: Julie Tupas/Unsplash.com

Soek ʼn gedagte uit die Bybel wat jou reis in 2019 kan tipeer en bid daarvoor

Die Woord is vol beloftes. Uiteraard is die Bybel nie ʼn magiese boek met towerspreuke nie. Dit bevat nie kitsformules wat alles ontsluit en resepte vir die uitdagings wat die lewe bied nie. Die Bybel en sy boodskap is heilig. Die Bybel is in besondere sin God wat praat.

Ps. 29:4 – Die stem van die Here is magtig, die stem van die Here is vol majesteit.

Op kanselklede het daar vroeërjare gestaan ‘so spreek die Here’. Dis ʼn groot verantwoordelikheid om met God se Woord om te gaan.

Ons verskil van mekaar en ons verhouding met die Here word nie aan voorskrifte gekoppel nie. Dis uniek en persoonlik afgestem op die mens met wie Hy in verhouding tree. Die wonderlike waarheid is dat God vandag nog praat en nie stil geword het nie. Hy het iets te sê oor die keuse wat ons maak die weg wat ons inslaan. Immers, Hy weet wat Hy vir ons beplan sê sy Woord, ʼn toekoms, ʼn verwagting. Ons moet leer om die stem van die Here te onderskei.

Job 33:14 – “God spreek die mens aan, Hy huiwer nie om dit op meer as een manier te doen nie.

1 Sam 3:9 – … en Eli sê vir Samuel: “Gaan lê en as iemand jou weer roep, sê jy: Praat, Here, u dienaar luister!” Samuel het toe gegaan en op sy slaapplek gaan lê.

Een van die kosbare skatte wat God gee is ʼn gedagte, teksgedeelte, perikoop, hoofstuk, selfs boek wat rigtinggewend kan wees vir die seisoen waarin jy jou bevind. Vra Hom vir so ʼn gedeelte. Dit kom op verrassende wyse na jou. In jou stiltetyd, tydens prediking, iets wat iemand sê, ʼn woord wat oor jou lewe gespreek word, so kan ʼn mens aangaan. Dit mag ʼn vers of refrein wees van ʼn lied wat gesing word. Koester daardie gedagte. Skryf dit waar jy dit kan sien en waar jy daaraan herinner kan word. Leef vanuit die werklikheid.

Hoor hoe God jou ontmoet in jou op weg wees in 2019.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.