ToekomsVenster: Leef vanuit Sy teenwoordigheid

(Foto: OC Gonzalez/Unsplash)

Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom. – Fil.1:6

Paulus is in die gevangenis wanneer hy hierdie brief skryf, die brief aan die gemeente in Filippi. Toe Paulus tyd by hulle deurgebring het, het hy aangesluit by ʼn aantal vroue wat by ʼn rivier bymekaar gekom het. Onder die vroue was Lidia, wat purper verkoop. Daar was klaarblyklik geen sinagoge in die gemeenskap nie. Daarvoor moes daar ten minste tien volwasse Joodse mans wees. Derhalwe kom die vroue so bymekaar.

Die gemeente het na Paulus se inhegtenisneming en gevangenisskap besluit om ʼn gesant te stuur om Paulus te bemoedig. Hy het ook ʼn geldelike gawe saamgeneem om Paulus se behoeftes aan te spreek. Paulus is eg dankbaar en stuur die brief saam met Epafroditos terug na die gemeente.

Ons let op ʼn aantal betekenisvolle momente in sy skrywe. Hier verseker Paulus die lesers dat God die verantwoordelikheid op Hom neem om sy kinders end uit by te staan. Hy sorg dat nie een verlore gaan nie en voorsien wat hulle nodig het vir die reis.

Somtyds is die druk wat ʼn mens as gelowige beleef so intens dat jy begin vrees. Vrae soos, sal ek enduit volhard, sal ek die wenstreep bereik, sal ek die goeie stryd stry en sal ek die woorde “mooi so, goeie en getroue dienskneg” eendag uit die mond van Jesus hoor, leef in jou hart.

Jy word oorweldig deur gevoelens van onsekerheid, twyfel en selfs ongeloof. Dit voel asof jy jou greep op God verloor en iewers in die niet wegkwyn. Jy bid, maar dit voel of die Here nie hoor nie. God se stem is stil en Hy voel ver. Bevange bid jy dat die Here jou sal begenadig en styf vashou. Dit is juis wat gebeur, skryf Paulus. Hy sien ons deur, Hy sal sorg dat ons die styf end uit stry en sal ons veilig en behoue by Hom bring.

Wanneer ʼn mens leer om in God se teenwoordigheid te ontspan, in sy beloftes te rus, op sy Woord te bly vertrou en leef vanuit sy teenwoordigheid, kom daar vrede.

Vrede ontwyk jou nie langer nie en ʼn kalmte neem van jou besit.

Ek weet nie watter uitdagings jy tans beleef nie.

Lees die teks weer ʼn keer en leef vanuit daardie realiteit. Die Here sal jou nie teleurstel nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here al lyk my toekoms soms maar vaal weet ek U hou my vas in U volmaakte Wil….dat U my vul met kalmte wat alle verstand te bowe gaan…Amen

FM ·

AMEN

My beker loop oor!!!!!!

Ons Vader het uit Amerika vir ‘n kleinkind ‘n werksaanbod met belofte van studiegeld gegee. Dit terwyl niemand herwaarts of derwaarts raat gehad het nie.

Hoe groooooot is U !!!!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.