ToekomsVenster: Leef wys

Argieffoto (Foto: congerdesign/Pixabay)

Ons kuier hierdie week met mekaar saam rondom die gedagte om die beste gebruik te maak van elke geleentheid.

“Wees dus baie versigtig hoe julle lewe. Moenie soos dwase mense leef nie, leef wys! Benut elke geskikte geleentheid, want ons lewe in slegte tye. Moenie ondeurdag optree nie, maar probeer uitvind wat God se wil is”. – Efesiërs 5:16-17

Die Bybel plaas ook besondere klem op vandag.

“Vandag, as julle God met julle hoor praat, moet julle Hom nie ignoreer soos julle gemaak het toe julle teen Hom gedraai het nie.” – Hebreërs 3:15

Ons word bevel om nie uit te stel nie maar geleenthede wat na ons toe kom aan te gryp en daadwerklik te benut. Dit teen die agtergrond dat die lewe kortstondig is en dat ons nie weet wat die dag van more inhou nie.

“Moenie roem oor wat jy môre verwag nie; jy weet nie wat die dag sal oplewer nie”. – Spreuke 27:1

Die Bybel waarsku ons ook om in al ons nadenke nederig en afhanklik te bly:

Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ‘n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.” Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ‘n damp wat ‘n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn. Julle moet eerder sê: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.” – Jakobus 4:13-15

Ek weet nie of jy al die ervaring gehad het dat ʼn voorganger, fasiliteerder, begeleier of wie ook al jou lewens verloop aan die hand van ʼn stuk tou voorstel nie. Dit is ʼn ontstellende en nugter ervaring.

Verbeel jouself die volgende:

Jy neem ʼn stuk tou, nie te kort nie en verbeel jou dat dit jou lewens verloop op aarde voorstel, van die dag van geboorte tot die dag dat jy die aardse met die ewige verwissel. Die eerste datum, die dag van geboorte is bekend. Die tweede datum is uiteraard onbekend.

Tussen die twee pole gebeur die lewe. Neem nou die tou verteenwoordigend van ʼn gemiddeld van 80 jaar. Dit is ʼn ryp ouderdom en as ʼn mens inderdaad gespaar word tot dan is jy geseënd.

Plot nou op die tou waar jy jouself tans bevind, bv. Sou jy 40 jaar oud wees sny die tou middeldeur en laat een stuk, dit wat onherroeplik verby is, op die grond val. Nou het jy dit wat oor is, sou jy tot op 80 gespaar word, in jou hande.

Terwille van die oefening moet ons nou reken met die tyd wat ons gaan slaap. Dit is nie vermorste tyd nie, inteendeel, baie noodsaaklik.

As ons gemiddeld agt ure, ʼn derde van ʼn 24 uur siklus (onthou dit is net ʼn oefening) per nag slaap en my rekeningkunde my nie in die steek laat nie moet ons ʼn verdere derde van 40 jaar wat oor is afsny.

Ons is nie onproduktief wanneer ons slaap nie, verheerlik God ook in ons slaap maar tog nie wakker nie. Carpe Diem sou dus vereis dat ons met daardie realiteit reken. Ongeveer 13 jaar word dus “om geslaap” wat ʼn betekenisvolle 27 jaar oorlaat.

Teen die agtergrond van my aanvanklike opmerkings wonder ek hoe jy nou oor die lewe dink.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here dankie dat tenspyte van n swakke mens wat ek is, het U my volkome lief en is ek in U kosbare hand

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.