ToekomsVenster: Leer Jesus weer persoonlik ken

Sonsondergang in Maledive (Foto: © Geopende Deure Internasionaal)

Die Fariseërs en sommige skrifgeleerdes wat van Jerusalem af gekom het, kom toe by Jesus. Hulle het gesien party van sy dissipels eet hulle kos met onrein hande, dit is met hande wat nie gewas is nie. Die Fariseërs, en tewens die Jode oor die algemeen, eet immers nie as hulle nie eers hulle hande behoorlik gewas het nie. So hou hulle hulle aan die oorgelewerde gebruik van die voorgeslagte. En wanneer hulle van die dorp af kom, eet hulle nie as hulle nie eers gewas het nie. Daar is ook nog baie ander oorgelewerde gebruike waaraan hulle hulle hou soos hoe om koppies, bekers, bakke en stoele te was. Die Fariseërs en die skrifgeleerdes vra Hom toe: “Waarom handel u dissipels nie volgens die oorgelewerde gebruik van die voorgeslagte nie en eet hulle met onrein hande?” Hy antwoord hulle: “Die profeet Jesaja het julle mooi opgesom. Julle is skynheiliges, soos daar geskrywe staan: “Hierdie volk eer My met hulle mond, maar hulle hart is ver van My af. Dit help niks dat hulle My probeer dien deur leerstellings van mense as gebooie van God voor te hou nie. “Julle laat die gebod van God los en hou aan die oorgelewerde gebruik van mense vas.” Hy het verder vir hulle gesê: “Julle verstaan die kuns goed om die gebod van God opsy te skuiwe en julle oorgelewerde gebruike in stand te hou. Moses het gesê: ‘Eer jou vader en jou moeder’ en: ‘Wie sy vader of sy moeder vloek, moet sekerlik doodgemaak word.’ 11Maar julle sê: ‘Iemand kan vir sy pa of sy ma sê: Enige gawe wat u van my sou kon kry, is korban,’ dit wil sê: ‘n offergawe vir God. En so laat julle hom toe om hoegenaamd niks vir sy pa of sy ma te doen nie. So ontneem julle die woord van God sy gesag deur julle oorgelewerde gebruike wat julle op julle beurt weer oorgelewer het. Daar is ook nog baie ander sulke dinge wat julle doen.” – Markus 7:1-13

Markus wemel met insidente wat die skyn godsdienstigheid van die geestelikes van Jesus se dag tentoonstel. Nou gaan dit oor die oorgelewerde gebruike van die voorvaders. Uiteraard is daar niks mee fout om jou hande te was voor ete nie. Dit is nie net goeie higiëne nie maar sterk aan te beveel. Dit sê iets van die respek wat ʼn mens vir voedsel as gawe uit die hand van God het en waardering vir die persoon wat dit met soveel liefde voorberei het. Maar om dit die status van voorwaarde te gee om by God aanneemlik te wees, is verregaande. Stel jouself die scenario voor. In die oordeelsdag word mense op grond van die feit dat hulle met ongewaste hande aan die etenstafel aangesit het tot ʼn ewigheid sonder God verdoem. Ai tog, hoe lagwekkend kan mense wees.

Veruiterlikte godsdiens sonder enige krag of verhouding. Dis wanneer mense verveeld raak met Jesus dat hulle allerlei oppervlakkige praktyke begin navolg en dit vir ander voorskryf. Buite skoon, binne vol doodsbeendere, het Jesus gesê. Boonop verhoed sulke oppervlakkige optrede dat ander die vreugde van die nabyheid van God kan smaak. Hulle tas in die donker rond opsoek na God terwyl hulle die voorskrifte van geestelikes volg maar leer Jesus nooit persoonlik ken nie.

Raak tog weer halsoorkop verlief op Jesus.

Dis net Hy en Hy alleen.

Daar is ʼn wesentlike verskil tussen tradisie en tradisionalisme. Die eerste is verdienstelik die tweede dodelik. Die een is rigting gewend die ander wetties. Die een nooi nader die ander stoot weg.

Die kerk word dikwels beskuldig dat dit huiwer om risiko’s te neem terwille van tradisies wat in stand gehou moet word. Menige inisiatief het al in die hek geduik as gevolg van die onbuigsaamheid van leiers. Die kerk word juis in ons dag opgeroep tot innoverende denke. Ons kan doodgewoon nie voortgaan soos ons dit tot op datum gedoen het nie. Desnieteenstaande huiwer die kerk terwyl mense dit toenemend irrelevant bevind. Sommige gemeentes maak selfs toe omdat hulle nie die oorgelewerde gebruike kan afskud nie. Dit mag uiteraard nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frank ·

Innoverende denke, modernisme? Hier moet ons fyn trap. Ja, dit het ‘n plek in gemeentes, net solank die onveranderlike Woord van God steeds jou vertrekpunt bly en jy nie wêreldse fieterjasies in die kerk inbring net om gemeentelede te “humour” nie. En dan in die proses dit wat jou ware kerk maak (NGB art29 som dit mooi op), prysgee nie.
God hou immers self Sy kerk (Sy liggaam) in stand.

Maria ·

Hierdie stuk deel ek my eie lewens. Wat ek daaruit geleer het is al het ek Here geken en glo kind van Here maar…..my hart was ver van Here deur sondige hart. Intersant ons kom nie eerste gebod na nie Moet jou God lief he met hele hart,lewe,gees,verstand en krag. Here my verander om ware lief te he met Here sjoe …..mense jy wil meer sonde doen nie so kan Here jou raak. Dankie Here voorreg wat ek het nie mis geloop nie

Dries ·

Wat ‘n wonderlikke Geesvervulde stuk. Dit was balsem vir my siel. Gebruike , tradisies en etiket het ‘n tyd en plek wat dit ‘n goeie doel dien, daar is plek daarvoor , maar ondergeskik aan die beginsels uit GOD se Woord, sodra dit gelykgestel word an Bybelse beginsels dan verander dit in Fariseeragtigheid!Daar moet ook onthou word, om te voldoen aan die vereistes van die Woord moet gebruike en tradisies soms aangepas word vir ‘n gegewe tydvak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.