ToekomsVenster: Leer ken die Skrif


flamingos-natuurskoon

Foto: Mihajov/Pixabay.com

Dis ʼn nuwe jaar. Hoe voel dit vir jou?

Dis soos ʼn nuwe dag en ons is op pad en op koers saam met die Here.

Mag die Here jou seën met die keur van sy seëninge. Mag goedheid en guns jou agtervolg soos ons in Psalm 23:6 lees: “U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.”

ʼn Merkwaardige jaar word jou en jou mense toegebid.

Hoe gaan ʼn mens hierdie jaar leef? Een dag op ʼn slag! Ons moet ons nie vergryp aan môre se genade nie. Ons is nie besorg nie, want die jaar en alles wat dit bring, is in die hande van die Here.

Ek wil graag voorstel dat jy in jou 2017-mandjie ʼn paar dinge inpak en met jou saamneem – instrumente wat die nuwe jaar baie betekenisvol gaan maak.

Die eerste is ʼn verbintenis aan die Woord van die Here, die Bybel. Jy gaan die Bybel met jou saamdra waar jy ook al gaan. Deesdae kan dit letterlik gebeur omdat jy die Bybel en verskeie vertalings daarvan op jou selfoon kan laai en enige tyd kan lees, oorweeg en bestudeer. Ai, ons is darem bederf, nie waar nie?

Laat die Skrif diep in jou hart woning maak.

Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees. – Romeine 15:4

Wil jy 2017 met geloofsmoed, verwagting en entoesiasme tegemoetgaan? Pak jou Bybel in. Dra dit met jou saam. Lees dit dikwels. Laat die Woord jou vorm in 2017.

Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ʼn regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk. – 2 Timoteus 3:16

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elsabe ·

Die jaar 2009 was die jaar waarin GOD my regtig leer bid het…in dieselfde jaar het ek vir die eerste keer die Bybel van Genesis tot Openbaring gelees.

So het ek ontdek dat kerfees soos ons dit ken eintlik ‘n geweldige heidensfees is….en dat GOD nerens opdrag gegee het dat ons JESUS se geboorte moet vier nie – dit is ‘n Katolieke gebruik wat deur ons oorgeneem is. Dit het my ‘n goeie deel van 4 jaar geneem om ontslae te raak van hierdie “ding” rondom kersfees! Dat GOD werklikwaar net mooi NIKS aan ons feeste het nie! Die 2009 was ‘n geweldige verreikende jaar – lees gerus die Bybel van voor tot agter deur – julle sal verstom staan! Groete. e

Shone Howard ·

Ek is bly daar is mense wat bietjie wakker word , en nie net soos skape rond dwaal met geen idee wat rondom hulle aangaan nie.

Ja daar staan nerens in die Bybel dat ons Kersfees moet hou nie.. As julle meer wil uitvind oor wat die katolieke alles verander het in ons samelewing , gaan Google gerus prof. Walter J. Veith se lesings. Groete S.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.