ToekomsVenster: Leiers met visie


josef-leierskap

Die Bybel se verhaal van Josef is ondermeer ‘n storie oor visionêre leierskap. Foto: Christianitymalaysia.com

Maar hy het vir hulle gesê: “Kom na my toe!” en toe hulle nader kom, sê hy: “Ek is julle broer Josef. Julle het my verkoop, en ek is Egipte toe gebring. Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red. Dit is nou maar die tweede jaar van hongersnood in die land. Daar lê nog vyf jaar voor waarin daar nie geploeg of geoes sal word nie. God het my voor julle uit gestuur om vir julle ‘n oorblyfsel in hierdie land te laat oorbly, om julle aan die lewe te hou en sodat baie aan die dood sal ontkom. – Lees Genesis 45:4-7

Leiers wat instaat is om die groter prentjie te sien en om ander daarheen te lei – selfs ten koste van hulleself, is sterk visionêre leiers.  Hulle sien verder as die gemiddelde persoon.  Hulle is instaat om verby persoonlike onreg en seerkry in belang van die groter saak te lei.

Josef was so ‘n leier.  Hy is ‘n ondenkbare intense onreg aangedoen deur sy eie broers wie hom hom as slaaf verkoop het en sy pa laat glo het dat hy deur ‘n roofdier verskeur is (Gen 37: 17-36).  ‘n Mens kan jou net indink hoe groot sy wroeging en innerlike pyn moes wees.  Ons lees van sy intense emosies toe hy na baie jare sy broers weer voor hom sien staan sonder dat hulle hom herken het (Gen 42-45).  ‘n Mens kry die indruk dat hy in hierdie proses moes leer om sy emosies te bestuur en hom moes weerhou van wraak en vergelding – hoewel hy aanvanklik ‘n kat en muis speletjie met sy broers gespeel het.  In die proses het hulle tot berou gekom oor hulle gruwelike daad van die verlede.

Josef styg bo sy innerlke verwonding uit wanneer hy sy eie verhaal herinterpreteer in die lig van God se groter prentjie: Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red (45:5).  Die grootsheid van hierdie visionêre leier bring nie net versoening tussen hom en sy broers nie, maar ook ‘n toekoms vir sy familie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.