ToekomsVenster: Leiers wat beïnvloed


leierskap

Foto: Earlychildtrainingcenter.com

Wie eerlike mense mislei sodat hulle die verkeerde pad loop, sal self in die gat val wat hy gegrawe het; die opregte sal voorspoed geniet. – Spreuke 28:10

Alle leiers het twee dinge in gemeen: Hulle is êrens heen op pad en hulle kan ander oorreed om saam met hulle te gaan.  Hoe groter iemand se invloed, hoe groter is sy leierskappotensiaal en sy vermoë om ander sover te kry om sy droom te help verwesenlik (John Maxwell).

‘n Mens sien dikwels positiewe en negatiewe leierskap by jongmense raak in die invloed wat hulle uitoefen op hulle maats.  Sterk negatiewe leiers beïnvloed ander om mee te doen aan negatiewe en soms destruktiewe gedrag.  Positiewe leiers daarenteen spoor ander aan tot opbouende optrede.  Dit is baie jammer dat goeie leierskapspotensiaal verlore gaan in misleiding.

Koning Hiskia het sy invloed gebruik om belangrike hervorming in die godsdiens van Israel te implementeer (2 Kon 18:4).  Onder sy positiewe invloed het die volk die weerstand gebied teen die Assiriërs en het hulle die Filistyne verdryf (vers 7-8).

Ons is almal leiers op verskillende gebiede.  Ons het die verantwoordelikheid om ons eie leierspotensiaal te ontwikkel en die geleenthede tot positiewe beïnvloeding te gebruik.  Dink byvoorbeeld aan die leierskapsinvloed wat ouers, onderwysers en jeugleiers het.  Dan is daar ook geleenthede tot beïnvloeding van vriende en kollegas.  Jy sal weet hoe mense dalk jou mening oor ‘n saak graag aanhoor en dikwels oorneem as hul eie.

Mag jy ‘n leier met positiewe invloed wees!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.