ToekomsVenster: Leiers wat bemagtig


Leierskap-bemagtig

Foto: Innocentive.com

Maar Moses se skoonpa sê vir hom: “Jy maak nie reg nie. Jy en al hierdie mense by jou sal totaal uitgeput raak. Die werk is te veel vir jou. Jy kan dit nie alleen behartig nie.” – Lees Eksodus 18:18

Daar is twee denkwyses wat ‘n groot invloed op ons lewens het: skaarste of oorvloed.  Mense met ‘n skaarstebeskouing glo daar is beperkte dinge beskikbaar, daarom moet jy veg om te kry soveel jy kan.  Jy moet ook dit wat jy het met alle mag beskem.  Mense met ‘n oorvloedbeskouing glo daar is altyd genoeg vir almal.  As jy ‘n idee het, deel dit; jy kan altyd aan nog een dink.  As jy geld het, gee daarvan weg; jy kan altyd meer verdien.  As jy een stuk tert het, gee dit vir iemand anders; jy kan altyd nog een bak (John C Maxwell).

Op die gebied van leierskap geld dieselfde beginsel.  As jy gee en bemagtig sal jy op een of ander manier terugkry wat jy gegee het.  Dit beteken dat jy ter wille van die groter prentjie soms moet terugtree en weggee.  Die uiteindelike effek is groter invloed.

Moses het ‘n wyse skoonpa gehad.  Hy het gesien dat Moses homself gaan uitbrand weens sy veeleisende verpligtinge en dat die welsyn van die hele volk daardeur in gedrang sou kom (Eks 18:17-18).  Hy adviseer vir Moses om te delegeer en te bemagtig (vers 21).  Die voorwaarde is dat die leiers wat hy moes bemagtig eerlik en onselfsugtig moes wees (vers 21).  Dit is voorwaar eienskappe wat vereis word van enige leiersposisie.

Die effek van bemagtiging is dat daar mense is wat die verantwoordelikheid saam kan dra (vers 22).

Jesus het met ‘n bemagtigingsmodel gewerk met sy dissipels. Hy het ‘n ambagslui-model gebruik.  Dit is die model van ambagsmanne wat saam met die meester werk totdat hulle die ambag bemeester het en dit weer vir ander kan leer.  Die resultaat was dat Hy hulle kon uitstuur om te gaan doen soos wat Hy hulle geleer het en op hulle beurt weer dissipels (vakleerlinge) kon maak.

Ons het behoefte aan meer leiers in ons land – eerlike en onselfsugtige leiers wat bemagtig word om ‘n verskil te maak.  Die geheim van positiewe beïnvloeding lê daarin dat elkeen van ons wat een of ander leiersposisie beklee, onsself sal vermeerder deur ander te bemagtig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.