ToekomsVenster: Leiers wat dien

leierskap-help-dien

Foto: Thinklivebepositive.wordpress.com

Jesus roep hulle toe nader en sê vir hulle: “Julle weet dat dit by die nasies so is dat hulle sogenaamde regeerders oor hulle baasspeel en dat hulle groot manne die mag oor hulle misbruik. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees. – Lees Markus 10:42-43

Daar is mense in magsposisies wat baasspeel oor ander mense en hulle mag misbruik (Mrk 10:42).  Jesus noem sulke persone sogenaamde regeerders (vers 42).  Hulle kwalifiseer by Hom nie as leiers nie.

Jakobus en Johannes se versoek om magsposisies te beklee verteenwoordig die misverstand wat by baie sogenaamde leiers aanwesig is oor wat leierskap is (vers 35-37).  Daar is onenigheid by die dissipels oor magsposisies (Luk 22:24).  Baie mense dink dat ‘n leiersposisie jou sekere regte gee, soos groter salarisse, uitsonderlike huise (paleise), luukse motors, spesiale behandeling en die reg van weg.  Dit is die oorsaak van meeste binnegevegte in politieke partye.  Talle gryp na hierdie tipe gewaande regte en assosieer dit met leierskap.  Geen wonder dat daar by baie mense so groot afkeer aan leiers ontstaan het en daar soveel wantroue is nie.  Mense voel dat hulle leiers hulle in die steek gelaat het.

Jesus se model van leierskap is dat dit dienend moet wees (Mrk 10:44).  Om te dien beteken om jouself te gee (vers 45).  In Jesus se geval het sy selfprysgawe uitgeloop op sy dood.

Jesus help ons baie om ons denke oor leierskap te vernuwe wanneer Hy verduidelik oor wie dit eintlik gaan.  Dit gaan naamlik oor diegene wie bedien word en nie oor die dienaar nie (Luk 22:27).  Hoe meer leiers gaan besef dat dit eintlik gaan oor die mense wat aan tafel sit, hoe minder sal hulle fokus op hulleself.  Op dié manier word leierskap dan ‘n roeping en nie meer ‘n posisie nie.

Dienslewering as sodanig in Suid-Afrika trek aan die kortste end vanweë die fokus wat weggeskuif het van dié wat aan tafel is na die kelners.  Dit het tyd geword dat die kelners hulle selfgemaakte krone verruil vir voorskote. Dit is ‘n pad vol slaggate en beserings.  Tog is dit die enigste pad wat lei tot vervulling en hoop.  Dit is hierdie pad wat lei tot die opheffing van armoede en ongeletterdheid en versorging.  Dit is die pad na ‘n beter toekoms vir alle mense.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.