ToekomsVenster: Leiers wat inspireer


leierskap-inspirasie

Foto: Faithgateway.com

Toe sê die koning vir my: “Is daar iets wat jy my wil vra?” Ek het ‘n skietgebed opgestuur na die God van die hemel en toe vir die koning gesê: “As die koning dit goedvind, as u dienaar op u goedgesindheid mag reken, stuur my na Juda toe, na die stad waar my voorvaders begrawe is, sodat ek die stad kan herbou.” – Lees Nehemia 2:4-5

Leiers wat ander inspireer is leiers met visie.  Hulle sien eers die groter prentjie en help ander om dit ook te sien.  Nehemia was so ‘n leier.

Nehemia was die koning se skinker (Neh 1:11).   Hy het verneem van die benarde toestand waarin Jerusalem verkeer het (Neh 1:1-3).  Dit het hom aan die hart gegryp en hy het ernstig daaroor gebid (vers 4-11).  Hierdie gebed het hom geïnspireer en in beweging gebring.  Hy het dadelik aan die werk gespring en die toestemming van die koning verkry om die stad te herbou (2:10).

Uiteindelik inspireer hy ‘n magdom mense om deel te neem aan die herstelproses (Neh 3).  Ondanks talle aanslae is die werk voltooi.  Nehemia se onbaatsugtige toewyding was ‘n geweldige aansporing.  Hy het sy leierskap ten koste van homself uitgeoefen (5:14-19).

Ons het vir die morele opbou en herstel van dienste sulke Nehemias nodig in ons land.  Ons benodig leiers wat mense inspireer om uit liefde vir hulle land en sy mense hulle vaardighede beskikbaar te stel tot voordeel van almal.  ‘n Mens hoor alreeds mooi verhale van gratis dienslewering in woongebiede, skoonmaakaksies in strate, gratis ekstra klasse vir behoeftige leerders, herwinningsprojekte, buurtwagte teen misdaad, geletterdheidsklasse en die opheffing van armoede – om maar ‘n paar te noem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.