ToekomsVenster: Lewe as nuwe mense

boekevat_bosveld_sonsopkoms_ReintDykema_vra-eers-toestemming.jpg

(Foto: Reint Dykema)

Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig. – Efesiërs 4:22-24

Die opskrif van die gedeelte in Efesiërs is “die ou en die nuwe lewe”.

Opskrifte, ook versindelings is eers later by die teks gevoeg, maar dit help darem om die hoofgedagte van te gedeelte te identifiseer.

Die eerste woorde van die aangehaalde teksgedeelte wil ons gedagtes uiteraard lei. Paulus doen ʼn ernstige beroep op gelowiges om nie langer soos heidene te lewe nie. Hy wys op die radikale ommeswaai wat daar in hul lewens gekom het. Die verskil tussen die lewe onder invloed van die wêreld en die heersende kultuur en ʼn lewe onder invloed van die Heilige Gees en midde ʼn Koninkrykskultuur is soos dag en nag. Dit is radikaal, ingrypend en lewensveranderend.

Dit is ʼn hartseer werklikheid dat baie Christene se lewens nie veel anders daaruitsien as die van ongelowige mense nie. Daarmee verwys ek na die keuses wat hulle maak, die dinge wat hulle doen en ondersteun en die praktyke waarmee hulle hulself besig hou.

Daarmee vra ek nie dat ʼn mens jouself moet onttrek van die res van die samelewing nie.

Hoe kan ons sout en lig wees vir die wêreld as ons iewers toegesluit lewe? Die uitdagings is juis om op ʼn natuurlike en spontane wyse, sonder om prekerig en wêreldvreemd voor te kom, die inwonende Christus en Gees van God ten toon te stel.

Christene het tog meeste van dieselfde behoeftes as wat ander mense het, immers ons is almal mense. Christene het egter vrygekom van die dwang van die wêreldse stelsel. Wêreldlinge se keuses draai meermale rondom die self, vir Christene gaan dit oor die ander. Wêreldlinge is ingestel op selfverryking, dikwels ongeag wat dit kos en vra. Christene deel wat hulle het met ander sodat almal genoeg mag hê.

So kan ons die onderskeiding tussen wêreldlinge en Christene een vir een opnoem.

Paulus is emfaties as hy sê – “hou dan op!”

As iemand in Christus is, is hy ʼn nuwe mens. Die ou dinge het verby gegaan, alles het nuut geword, ook vir jou.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.