ToekomsVenster: Lewe in balans vir ’n gelukkiger lewe

balans

Foto: Nathan Dumlao/Unsplash.com

Dit is ʼn lewenslange uitdaging om ʼn lewe in en van balans te lewe. Daar is seisoenale verpligtinge wat maak dat jy vir ʼn tyd lank, selfs ten koste van ander dinge, op een saak moet konsentreer. As jou lewe egter in ʼn voortdurende wanbalans is moet jy dringend aandag gee.

Wat bedoel ek met ʼn lewe in balans?

Dit is ʼn lewe waar daar genoeg van alles ingebou is.

Ons is, soos by ʼn vorige geleentheid gesê multi-dimensioneel. Dit is deel van God se skeppingswonder. Ons is liggaam, siel en gees. Binnekant en buitekant. Ons het ʼn bietjie van alles nodig.

Die geestelike verteenwoordig die vertrekpunt van ons lewens. Die geestelike reg verstaan, is nie ʼn deel nie maar die geheel. Dit bepaal en beïnvloed die manier waarop ek lewe. Dit is Christus in my en ek in Hom. Hy is die naaf van die wiel en vanuit ʼn verhouding met Hom leef ek die lewe.

Tog kan ek so opgaan in ʼn spirituele benadering tot die lewe dat daar vir niks anders plek is nie. Ek vergeet dat ek steeds op aarde is. Ek laat na om verhoudingsmatig te lewe, ander in my lewe toe te laat. ʼn Prekerige en dweperige lewensstyl laat niks en niemand naby my toe nie. Almal vlug as hulle my sien. Ek leef geïsoleerd en vervreemd van ander en reken dat dit dissipelskap in die praktyk is wat dit nie is nie.

Christene vind en leef met balans. Jou hele wese roep daarna. Dis hoe God jou gemaak het.

Boonop is die lewe eenmalig. Dit wat deel vorm van die teenwoordige bestel gaan verby. Dit gaan radikaal anders wees in die hemel.

  • Is daar vriende in jou lewe en hoe gaan dit met jou sosiale lewe?
  • Is daar tyd vir ontspanning en hoe klee jy dit in?
  • Het jy ʼn stokperdjie en hoeveel tyd spandeer jy daaraan?
  • Is daar ʼn betekenisvolle ander in jou lewe en ken en ervaar jy nog die wonder en ekstase van intimiteit?
  • Wanneer laas het jy en jou geliefde ʼn romantiese aand uit gehad?
  • Speel jy nog met jou kinders en daag jy by jou seun se rugbywedstryd op?
  • Rantsoeneer jy tyd voor die TV sodat die lewe nie by jou verbygaan nie?
  • Is jy deel van ʼn belangegroep waar jy jou belangstelling kan uitlewe?

Jy sê daar is net 24 uur in ʼn dag en jy is reg. Wat maak jy daarmee?

Lewe in balans. Dit gaan verby.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.