ToekomsVenster: Lewe vir God

(Foto: Silvestri Matteo/Unsplash.)

Rom. 14:7-9 – Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here. Hiervoor het Christus ook gesterf en weer lewend geword: om Here te wees van die dooies en die lewendes.

Paulus se bekende woorde – “niemand leef tog vir homself nie”.

Ek wil vir ʼn oomblik vir Paulus vra in watter wêreld hy dan leef? Ons kultuur word gekenmerk deur selfsug en eiebelang. Die vreeslikste onreg word teenoor mekaar gepleeg en mense ontsien ander se privaatheid, harde werk en opoffering ens hoegenaamd nie.

Baie leef met ʼn agenda dat hulle maar kan roof en steel en kan vat wat aan ander behoort. As dit nie gewilliglik prys gegee word nie word dit met brute geweld afgeneem. Mense se lewens is min werd,  deesdae ongeveer die prys van ʼn tweedehandse selfoon. Die geringste verset kan jou jou lewe kos.

As Paulus dan beweer dat dit nie die geval is nie wonder ʼn mens in watter wêreld hy woon.

Ja, hy woon en werk in die Koninkryk van God. Die Koninkryk word gekenmerk deur ʼn ander stel reëls as dit wat in die wêreld soos ons dit ken die geval is.

In stede van eie belang weeg die belang van ander die swaarste. In stede van inpalm is uitdeel die norm. In stede van haat geld die wet van die liefde. In die plek van agterdog en vooroordeel kom vertroue en geduld.

Wie wil dan nie deel wees van so ʼn bestel nie?

Dit klink idealisties en onwerklik en tog is dit presies wat gebeur wanneer ʼn sondaar oorgaan in die Koninkryk van God se wonderbare lig. Die duisternis neem die wyk en God se lewegewende lig stroom ʼn mens se lewe binne.

Ons het hierdie transformerende werk van die Gees van die Here baie nodig. Ons wêreld bloei dood. Ons het die bloed van die Lam van God nodig om ons te was en te vernuwe.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.