ToekomsVenster: Lewensbeginsels van ongeloof en vertroue

vertroue

Foto: Lauren Lulu Taylor/Unsplash.com

Ons gaan ʼn kort reeks doen oor tien lewensbeginsels wat jou lewe kan omtower. Ons stel eers die negatiewe en dan daarteenoor die alternatief.

Die lewe gaan oor keuses. Iemand het gesê jy kan nie help as ʼn voël oor jou kop vlieg nie maar as hy daar nes skrop is dit jou eie skuld. So aan die begin van ʼn nuwe jaar is dit ʼn gesonde oefening om vir ʼn oomblik na te dink hoe jy wil lewe en wat jy wil hê jou lewe en optrede moet kenmerk. Net weer, jy maak die keuse. Die negatiewe kom gemaklik. Mens hoef dit nie in te oefen nie. Die positiewe, die alternatief neem inspanning en opoffering maar bevredig meer as wat woorde kan sê.

Die eerste begrip wat ek op die tafel wil bring is ongeloof. Ongeloof veral binne die konteks van ʼn mens se geestelike ervaring en gerigtheid. Christene leef meer dikwels met twee stelle reëls. Hulle getuig van die een maar leef die ander uit.

So baie van wat Christene sê en doen getuig van blatante ongeloof. Ongeloof is ʼn mosie van wantroue in God, sy Woord en sy beloftes. Deur gedurig negatief en morbied te wees oor alles en almal beroof God van sy eer.

As Hy is wie Hy sê Hy is naamlik die Here van hemel en aarde, behoort ʼn mens met verwagting en vertroue te lewe.

Na alles, ons hulp is van die Here wat hemel en aarde gemaak het, wat getrou bly aan sy Woord en nooit laat vaar die werke van sy hande nie.

Vertroue is nie naïwiteit en goedgelowigheid nie. Dis berekend en gebaseer op God se ewige beloftes. Dis geanker ʼn ervaring. Dink vir ʼn oomblik terug. Het die Here jou al teleurgestel? Nie in terme van wat jy wou hê dat Hy vir jou moes doen nie maar in terme van wat Hy in sy Woord belowe het.

Ek dink nie daar is ʼn mens wat God in die beskuldigde bank wil plaas nie. Hy is in alles bo verdenking. Niemand kan ʼn vinger na God wys nie. Ongelukkig kan dieselfde nie van ons gesê word nie. Kom ons neem ons dit voor dat ons nie die jaar 2019 in ongeloof gaan deurbring nie maar gaan groei in geloofsvertroue. Die Here seën.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.