ToekomsVenster: Liefde breek die bose kringloop


Lente-bloeisel-02

Argieffoto.

Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. – 1 Kor 13:4-7

Om lief te hê is vrek moeilik as die ander persoon moeilik is. Sommige mense maak ’n gewoonte daarvan om so op te tree dat dit byna onmoontlik is om hulle lief te hê. As hulle dan nog elke keer sê dat hulle jammer is, voel ’n mens dat die liefde wat jy ten spyte van alles betoon, verraai word. Ander mense doen nie eens die moeite om jammer te sê nie!

Ek is seker dat jy nou aan iemand dink wat die lewe vir jou moeilik maak. Ons kry baie van hulle selfs onder Christene en in gemeentes. Daar is moeilike leraars, ouderlinge, dienswerkers, leiers en lidmate. As een so ’n lidmaat na ’n ander gemeente vertrek, kom daar soms twee om sy of haar plek te neem.

Paulus het heelwat sulke mense onder die Christene in Korinte geken. Hulle het die lewe vir hom moeilik gemaak. Hulle het sy gesag bevraagteken, stories oor hom versprei en mekaar sleg behandel. Die twee briewe wat ons het (’n ander een het weggeraak) is vol daarvan.

Stel jou voor hoeveel dit van Paulus gevra het om hierdie hoofstuk te skryf. In net ’n paar verse verduidelik hy wat liefde is en nie is nie. Kyk na die positiewe aspekte. Wanneer mense jou toets, is jy geduldig. Wanneer mense jou onvriendelik behandel, is jy vriendelik. Wanneer mense jou kritiseer, is jy nie liggeraak nie. As mense jou seermaak, hou jy nie boek van die kwaad nie. Inteendeel, die liefde leef met vergifnis, hoop en geloof. Dis asof ons deur die liefde vir mekaar sê: ek glo en hoop dat die Here mense kan en sal verander.

A A Van Ruler skryf baie mooi hieroor. Hy sê dat die liefde nie geïntimideer kan word nie. Nie die ergste dinge kan die liefde oorwin nie. Die liefde word gedurig, permanent deur die slegte werklikheid van die wêreld uitgedaag.

Wat Paulus hier skryf is dat die liefde die vermoë het om die bose kringloop van die wêreld se waardes verbreek. Die liefde bedek alles. Dis asof ons nie sien wat die wêreld aan ons doen nie, want ons is nie liggeraak nie. Ons soek nie ons eie belang nie. Die liefde konfronteer die wêreld met ’n alternatief. Dit is nie ’n sagte, ruggraatlose liefde nie. Dit vra durf en krag.

Die liefde verander alles.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.