ToekomsVenster: Liefde, die barometer vir volwassenheid


liefde

Argieffoto.

Die liefde vergaan nooit nie … maar die gawe van profesie sal verdwyn, die gawe om ongewone tale en klanke te gebruik, sal ophou, en dié van kennis sal uitgedien raak. En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde! – 1 Kor 13:8,13:

Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik. – 1 Joh 4:12:

Oepke Noordmans, ’n bekende Nederlandse teoloog, het een van die mooiste beskrywings van die kerk gegee. Hy het gesê dat die kerk te vroeg vir die hemel en te laat vir die aarde is.

Die kerk is te vroeg vir die hemel. Dit gaan oor die gebrokenheid van die kerk. As ons in gemeentes rondkyk, sien ons dit. Die liggaam van die Here is vol gebreke. Toe Paulus sy brief aan die Korintiërs geskryf het, was dit ’n verdeelde spul. Dis hoekom hy oor die liefde skryf. Dis iets wat hulle opnuut moes verstaan, want hulle het mekaar hof toe gesleep, het onsedelik gelewe en het selfs die nagmaal gebruik om liefdeloos te wees (1 Kor 10,11). Hulle het die geestelike gawes gebruik om mekaar te verkleineer of om hooghartig te wees (1 Kor 12). Dis hoekom Paulus skryf dat die liefde nie onwelvoeglik handel nie, nie sy eie belang soek nie, nie van die kwaad boekhou nie, nie liggeraak is nie. Dis tipies van mense wat nog onvolwasse is. Daar is nog baie, baie harde werk wat voorlê. Die kerk is te vroeg vir die hemel. Ons is nog nie daar nie.

Die kerk is egter te laat vir die aarde. Ons is nie meer soos die wêreld nie. Die gemeente wat onder die leiding en in die krag van die Heilige Gees lewe, reflekteer iets van die hemel op aarde. Immers, die Gees van God is God self. As ons in kontak met God kom, in ’n verhouding met Hom lewe, word ons soos Hy. Johannes skryf oor mense wat uit God gebore is, wat God gesien het (1 Joh 4). As ons met God in kontak gekom het word sy liefde ons liefde. God is ewig. Sy liefde vergaan nie. Dit word nie uitgeblus deur die vyandigheid of verkeerde optrede van ander nie.

Die liefde vergaan nie. Geloof gaan oor in aanskoue. Die hoop word vervul. Liefde bly vir altyd, want God is liefde. Iets van God, iets van die hemel word ’n werklikheid wanneer mense deur God se Gees vervul word en mekaar liefhet. Die kerk, die gemeente is te laat vir die aarde. Dis nie meer soos die wêreld nie. Die liefde bedek alles, glo alles en hoop alles. Dit skryf mense nie af nie, maar gee aan die ander persoon ’n nuwe begin.

Toe ons ’n kind was, onvolwasse was, het ons soos die wêreld gedink (1 Kor 13:11). Toe het ons mekaar behandel soos die wêreld sonder Christus mekaar behandel. Ons was te vroeg vir die hemel. Nou is ons volwasse. Ons is klaar met die dinge van ’n kind. Ons dink soos God. Ons kyk soos God na die wêreld. Ons het lief soos God liefhet. Ons is te laat vir die aarde. Ons het die Gees ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.