ToekomsVenster: Liefde eerste!

liefde hart

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

Beginsels van die koninkryk

Ons reis met hierdie belangrike, kosbare tema staan einde se kant toe en ek sal graag vyf beginsels met julle wil deel wat ek glo krities belangrik is vir die burgers van die koninkryk vandag; hulle wat die koninkryk bou. Ek bid dat die Here hierdeur elkeen van ons sal inspireer om nuut te dink oor die koninkryksimpak wat ons moet maak.

Die eerste beginsel van die koninkryk is liefde. Hierdie liefde is nie ’n emosie nie, maar ’n werkwoord. Dit is die nadoen van Christus se verlossingsdaad. Dit is die verkondiging van die Goeie Nuus van die Goeie Vader wat sy Goeie Seun op Goeie Vrydag gegee het. Ons lees in 1 Korintiërs 13 dat die liefde die beste van al die gawes is. Dit is die allerbeste. Liefde vergaan nooit nie. Net voor Sy hemelvaart braai die Koning vis vir ontbyt op die strand. Daar rondom die warm kole vra Hy drie keer vir Petrus of Hy Hom liefhet. Petrus, wat drie keer ontken het dat hy een van Jesus se dissipels was, word deur die liefde van die Koning oorgehaal om drie keer JA te sê (Johannes 21). Die derde keer is oorweldigend vir Petrus en die liefde van Christus bereik die diepste deel van sy hart.

Koninkrykbouers bou met stene van liefde. Hierdie liefde is vol genade en waarheid (Johannes 1:14). Indien ons net genade verkondig, sal ons ’n gehoor hê, maar geen boodskap nie. Indien ons net waarheid verkondig, sal ons ’n boodskap hê, maar geen gehoor nie. In liefde ontmoet genade en waarheid mekaar. Die bouers van die koninkryk gaan na die wêreld toe met ’n liefde wat die sonde van hul harte ontbloot en die genade daarin gestort het. Liefde wat altyd bedek, altyd verdra, altyd glo en altyd hoop. Liefde wen wanneer Jesus wen, want in Jesus sien ons dat liefde genade en waarheid is. Liefde spreek die hardheid van ons harte en ons sondige geaardheid in waarheid aan; in liefde breek dit oop wanneer genadewater daarin vloei.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SNEL ·

Die hele wet hang aan; jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, siel en verstand EN jou naaste soos jouself. As ons net by dit bly, dan sal alles in plek val, dan sal daar niks misdaad wees nie, want jy sal vir ander omgee en hulle en hul eiendom respekteer. Om lief te hê tel baie, dit sê hoe jy praat en optree teenoor ander, jou geduld op die pad en by n toonbank. Liefde is soos die skrywer gesê het, nie net n gevoel nie, dis n werkwoord.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.