ToekomsVenster: Liefde is ʼn wonderlike ding


liefde-hart

Foto: Hercampus.com

Hosea 11:8-9

“Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? Hoe kan Ek jou vernietig soos Adma, met jou maak soos met Sebojim? Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk. Ek sal my gloeiende toorn bedwing, Ek sal nie so ver gaan en Efraim uitwis nie, want Ek is God, nie ʼn mens nie. Ek is die Heilige wat by jou is, Ek sal nie met woede ingryp nie.”

Liefde is ʼn wonderlike ding. Liefde oorbrug afstand, maak  opofferinge  en gee self prys.

Die Bybel is ʼn liefdesverhaal. Dis ʼn roman. Dit vertel van God se groot liefde vir mense wat dit nooit kan verdien nie. Dit vertel van God se selfopofferende liefde. “So lief het God die mens gehad, dat Hy Homself gegee het. Sy enigste en mees kosbare besitting, sy lieflingseun gegee het sodat ander mense ook liefde kan ontvang”.

Wie kan dit ooit verstaan? Dis duiselingwekkend, aangrypend. Dis die liefde wat God het vir mense wat Hom weer en weer en weer en weer en weer en weer teleurstel.

Sonde is om liefde terug te gooi. Dis grof, gemeen en grusaam.  Dis om die hand wat na jou uitgesteek is, weg te klap . Dis om by vreemdes liefde te gaan soek. Liefde wat verdag is. Ver verwyderd van die opofferende liefde wat God aan ons bewys het toe Hy Sy Seun gestuur het.

Hosea se mense is ʼn weerspannige en opstandige klomp mense. Die een oomblik dreig God om hulle uit sy lewe uit te skryf. Hy wil hul sondige opstand nie meer aanskou nie. En dan oorweldig die liefde Hom.

“Hoe kan ek julle prysgee?” vra die Here.

My liefde brand te sterk.

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.