ToekomsVenster: Liefde is nie liggeraak

(Foto: Wout Vanacker/Unsplash)

Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. – 1 Kor. 13:5

O, die alewige liggeraaktheid van God se kinders. So ’n trietserige selfbehepte bestaan verklik dat die “eie ek” nog die heerskappy voer in ’n mens se lewe.

Toegegee, mense is broos en neem maklik aanstoot. Miskien is dit omdat oorlewing in ons wêreld nie so maklik is nie. Jy moet keer vir al wat jy werd is. Iewers langs die pad begin jy ’n lewenshouding ontwikkel wat glo dat almal daarop uit is om jou te na te kom. Jy is hipersensitief en pruim letterlik aan die goed wat mense vir en oor jou sê om te sien of hulle jou nie iewers wou benadeel nie.

Terwyl ons almal geroep word om ’n wag voor die mond te hê sukkel ons dikwels met die regte woorde. Ons bly in gebreke om die regte woorde te vind en as dit eers uit is trek ’n mens dit baie moeilik terug. Ons moet maar dink voordat ons praat, nie waar nie.

Aan die ander kant wou ’n mens graag wou glo dat die persoon wat na jou luister al geleer het om te onderskei. Dit geld van ons almal. Vergewe sommer uit die staanspoor. Gaan lig om met dit wat ander mense vir en van jou sê. Vergewe hulle die onbeholpenheid waarmee hulle somtyds vorendag kom. Môre is dit jou beurt en dan is iemand weer vir jou kwaad.

Nee wat, fyngevoeligheid het nie ’n plek in die gesin van God nie. Mens wil nie gedurig op jou senuwees wees omdat iemand nou weer gaan aanstoot neem nie.

Skud die liggeraaktheid af. Dis heeltemal onnodig want jy weet mos die Here is lief vir jou.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frank ·

Ja, van baie seerkry en om geskop te word as jy lê, raak mens maar broos en gevolglik oor sensitief. Maar moeilik om te beveg, maar ons moet aanhou probeer! Selfbeheersing is mos ‘n vrug van die Gees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.