ToekomsVenster: Liefde is vriendelik

(Foto: Hybrid/Unsplash)

Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. – 1 Korintiërs 13:4

Paulus noem sommer ’n hele paar sake in hierdie vers. Liefde wat ’n Goddelike kwaliteit vertoon, liefde soos Jesus liefgehad het word deur vriendelikheid gekenmerk.

Bombastiese mense is onaantreklik en nie ’n goeie advertensie van die Koninkryk van die Here nie.

Jaloesie is ’n mistasting oor wie jy in God se ekonomie bedoel is om te wees. As ons besef hoe lief die Here ons het, watter prys Hy betaal het om ons in verhouding met die Vader te stel en hoe uniek Hy elkeen van ons geskape het, sal ons nie jaloers wees op ander se prestasies of vermoëns nie.

Onthou Paulus se redevoering in hoofstuk 12, die Gees gee gawes soos wat Hy wil sodat die Liggaam opgebou kan word.

Wees opgewonde dankbaar oor wat die Here aan jou toevertrou het en ontwikkel dit ten volle. Wees diensbaar in die Koninkryk sonder om te vergelyk. Elkeen sal van die Here sy loon ontvang.

Grootpraat is ’n teken van minderwaardigheid en iemand wat met sy identiteit worstel. Dit is so onnodig in die lig van wat ons reeds gesê het. Dit is onnodig om jou eie beuel te blaas. Laat die Here jou op die laaste dag komplimenteer wanneer jy dankbaar en in verwondering hoor “mooi so goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal Ek jou aanstel, gaan in die heerlikheid van jou Heer”.

Ook verwaandheid is buite orde in ’n liefdes-atmosfeer. Om jou plek voor God en ander te ken is belangrik. Paulus sê juis dat ’n mens nie meer van jouself moet dink nie.

Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle: Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het. – Romeine 12:3

Ag nee wat, ons is tog nie so onseker van onsself dat ons selfs in die Koninkryk van die Here met mekaar wil wedywer nie! Dit is onnodig en openbaar ’n verkeerde gesindheid.

Wees jou vriendelike self. Dit is wat die Here van jou en my vra.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.