ToekomsVenster: Liefde laat God se wil in die gemeente geskied


kerse-kerslig

Foto: Geralt/Pixabay.com

Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. – 1 Kor 13:5,6

Dis erg om nie liefde te ontvang nie. Dis moeilik om alle mense lief te hê. Dit aanvaar ons. Daar is egter een fout wat ons maak wanneer ons hierdie opmerkings maak. Om hierdie fout raak te sien, moet ons weer in gedagte hou waaroor Paulus in hierdie hoofstukke skryf. Hy skryf aan mense wat klaarblyklik die gawes van die Gees misverstaan het. Een van hierdie misverstande was dat hulle nie aan die gemeente as die liggaam van Christus gedink het nie. Dit het tot ’n radikale fout gelei.

Wat is die fout? Wanneer ons nie aan die kerk as Christus se liggaam dink nie, vergeet ons van ander mense. Dan gaan dit net oor ons as individue. Ons is begaan oor onsself. Dit het ’n impak op ons diens aan mekaar en op die manier waarop ons oor liefde dink.

Liefde binne die konteks van 1 Kor 12-14 is liefde binne die liggaam van Christus. Natuurlik is dit ’n mooi hoofstuk wat tydens ’n huwelikseremonie gelees kan word en is baie daarvan van toepassing op ons individuele lewens. Primêr gaan dit egter oor die opbou van die liggaam van Christus. Die belangrikste vraag wat ons hiervolgens in ons harte behoort te hê is dit: hoe hanteer ons mekaar sodat die liggaam van Christus daarby kan baat? Die enigste antwoord is dit: met liefde!

Een van my vriende het ’n geruime tyd gelede vir my ’n aanhaling van Dietrich Bonhoeffer aangestuur. Hy het gesê dat die doel van vriendskap uitsluitlik bepaal word deur wat God se wil vir die ander persoon is. Ons vra onsself dus af hoe ons vriendskap die wil van God in die ander persoon se lewe kan laat geskied. Dis die doel van alles!

Dieselfde kan gesê word van die doel van liefde in die gemeente. Ek vra nie wat ek kan ontvang nie. Ek wonder nie of iemand liefde werd is nie. Ek vra hoe my liefde die wil van God in die ander persoon se lewe kan laat geskied. Wanneer hierdie vraag ons gedrag bepaal, gaan ons werklik die krag van die Gees in ons gemeentes werksaam sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.