Alle mense het potensiaal, merkwaardige moontlikhede, ʼn roeping. Elke Christen het ʼn Godgegewe gawe kombinasie, talente, vermoë en elke mens het die potensiaal om ʼn daadwerklike verskil te maak.
1 Korintiërs leer ons dat die Heilige Gees vir elkeen gawes en talente gee soos die Here wil. (1 Kor. 12-14) .
Hy doen dit sodat ons nie afgunstig op mekaar sal wees nie maar mekaar sal opsoek in die geloof.
By en saam met mekaar kan ons saam ons taak en roeping soveel beter uitvoer. Elke deel van die liggaam het ʼn besondere taak en roeping vir die voordeel van die liggaam van Christus.
Kinders van die Here kyk nie neer op ander mense nie. Ons skep veel eerder ʼn konteks waarbinne die gawes kon ontwikkel.
Ek het die voorreg gehad om in ʼn huis groot te word waar my ouers Christene was en Woordgebaseerde beginsels aan my oorgedra het. Hulle het hard gewerk dat ek as hulle kind met die meeste moontlike opsies bekendgestel kon word.
Hulle het dit moontlik gemaak dat ek my skool loopbaan kon voltooi en Universiteit toe kon gaan.
My konteks was van die begin af relatief positief en het inhoud gegee aan my potensiaal.
Ek het geen rede om te roem nie.
Dis alles genade.
Daarom durf ek nie my plek en posisie en moontlike impak gebruik om ander mense af te knou net omdat hulle nie dieselfde het of bereik het as ek nie.
Alle mense het wonderlike potensiaal as hulle net die geleentheid gebied word.
Juis daarom moet ek daaroor nadink hoe ek ander kan help om te ontdek wie hulle is.
Dis wat liefde doen.
- ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za