ToekomsVenster: Lof aan die Koning

Foto: Dapo Oni/Unsplash

Ons werk tans deur Nehemia, ʼn merkwaardige boek in die ou Testament.

Aan die begin van elke dag se meditasie luister ek eers na ʼn mooi geestelike lied. Vanoggend was dit Louis Brittz met “Bring die Koning terug”.

Daar is ʼn aansteeklike refrein wat in die lied oor en oor gesing word. Die woord “halalalalala”, kort weg “halleluja”, is daarvan die kern. Halleluja beteken doodgewoon “lof aan die Koning, prys die Here.”

Toe Jesus aan die vooraand van sy verhoor en kruisiging Jerusalem binnery sing die skare hulle hallelujas.

Matteus 21:9 – Die mense wat voor Jesus geloop het en dié wat agter Hom aan gekom het, het begin uitroep: “Prys die Seun van Dawid! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom! Prys Hom in die hoogste hemel!”

Hul eerbewys versand egter wanneer hulle later skree – kruisig Hom.

Dis dankbare mense wat so sing en lewe. Dis mense wat weet dat hulle in alles van die Koning afhanklik is en Hom wil eer en verheerlik. Dis mense wat erkenning gee aan die feit dat die lewe in al sy dimensies ʼn gawe uit die hand van God is. Hulle bely dat genade nie vanselfsprekend is nie, dat hulle geroep is en word tot ʼn lewe van toewyding en integriteit, dat hulle elkeen ʼn taak en opdrag het waarmee hulle besig móét wees.

Opgewonde, entoesiastiese, blymoedig, deurleefde maar steeds doodgewone mense. Mense met wie ander kan identifiseer, gelowiges wat die eenvoudige dinge in die lewe omarm, ander mense liefhet omdat God hulle liefhet en so leef dat hul eendag mag hoor “mooi so goeie en getroue kind van God”.

Kom leef dit saam met my!

Openbaring 19:4 – En die vier-en-twintig ouderlinge en die vier lewende wesens het neergeval en God aanbid wat op die troon sit, en gesê: Amen, Halleluja!

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.